Misdadigers teiken selfoonbankdienste, waarsku polisie
'n Waarskuwing is uitgereik ná verskeie gevalle waar swendelaars slagoffers telefonies kontak en hulself as bankamptenare voordoen.
Sersant Chris Jansen, die media skakeloffisier van die Riversdal-polisie, sê hulle ervaar tans ‘n ernstige probleem met swendelaars wat veral bejaarde persone teiken. Die swendelaars kontak slagoffers telefonies en doen hulle voor as bankamptenare.
Volgens Suid-Kaap Forum oortuig hierdie swendelaars mense dat iemand besig is om hulle bankrekeninge leeg te trek en verkry sodoende persoonlike bankbesonderhede. Slagoffers word ook aangesê om op hulle selfoonbankdienste in te teken, waar die swendelaars dan sekere instellings verander en geld uit die rekeninge onttrek.
Volgens Jansen is daar die afgelope tyd verskeie sulke gevalle in die Hessequa-gebied aangemeld.
Hy doen ‘n beroep op die publiek om sulke oproepe onmiddellik te beëindig en eerder self die bank te besoek om vas te stel of daar enige ongerymdhede op hulle rekeninge is.
Kliënte word verder aangeraai om hulle bank se bedrog-aanmeldingsnommer te alle tye byderhand te hê en dit te skakel indien hulle vermoed dat ‘n swendelaar probeer om toegang tot hulle bankrekening te verkry. Dit is veral belangrik indien jou bank nie ‘n tak in die dorp het nie, of indien swendelaars jou buite kantoorure kontak.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.suidkaapforum.com