Man, 3 dogters sterf in trompop botsing: Roodepoort-ma vertel van Desember-tragedie

Wat ‘n vrolike rit na die see moes wees het in ‘n nagmerrie verander toe ‘n pa en sy drie dogters gesterf het na ‘n motorongeluk.

Desember is sinoniem met son, vakansie en luilekker dae saam met familie en vriende, maar vir Irene Havenga, sal hierdie tydperk nooit weer dieselfde wees nie.

Saterdag, 13 Desember was veronderstel om die begin van die Havenga-gesin se jaarlikse seevakansie te wees, maar ‘n tragiese ongeluk het alles in ‘n oogwink verander, berig die Roodepoort Record.

Botsing eis Irene se man, kinders

Irene se man Riaan (62), getroude dogter Ilani Kriel (25) en haar twee ander dogters Anri (25) en Christelle (22) was op pad na Hermanus via Kimberley (waar hulle die aand sou oorslaap), toe hulle op die N12 naby die Carletonville- en Fochville-kruising in ‘n kop-aan-kop-botsing betrokke was.

Ilani is op slag dood; Riaan en Christelle is na ‘n plaaslike hospitaal gehaas waar hulle later dieselfde dag aan hul beserings beswyk het. Anri is ‘n week later, op 20 Desember, in die Lenmed Hospitaal in Randfontein, oorlede.

“Voor 13 Desember, was ek ‘n ma en vrou in ‘n liefdevolle gesin wat uitgesien het na ‘n vol lewe saam met my man, skoonseuns en drie kinders wat op die drumpel van vrouwees en groot drome was. Ek moet nou elke dag met ‘n seer en swaar hart begin,” het sy vertel.

Sy het bygevoeg dat sy geskok en verpletter was toe sy die nuus ontvang het en dat sy nog elke dag sukkel om dit te verwerk.

“Die skok is verby, maar diepe rou het nou in geskuif, en is daagliks teenwoordig. Beraders sê dat die rou oor maande sal sagter word, en ek hoop van harte dit is so. Ek glo dat ek aan die ander kant sal uitkom met God se genade.”

Familie, vriende hou haar staande

Irene glo dat jy net staande in ‘n vol hysbak kan bly wanneer ander mense jou regop hou.

“Ek kry ongelooflike ondersteuning van familie, vriende [The Hills-groep in Helderkruin] asook my geloofsgenote by die Nederduitsch Hervormde Kerk in Weltevredenpark. Die gemeente se ondersteuning, nie net met die begrafnis nie, maar ook deur gebede boodskappe, inloer en gestuurde etes, hou my regop.”

Sy het bygevoeg dat sy stadig aan die stukkies weer optel en aangaan met haar daaglikse werk as rekeningkundige by ‘n ouetehuis.

“Die onderhoud van die tehuis [soos ‘n lekkende plafon en bome wat omval] sonder Riaan aan my sy hanteer ek maar. Die administrasie van wetlike- en boedelsake het ook soos ‘n groot berg voor my gelê, maar met die hulp en bystand van familie, is dit ook makliker.”

‘Altyd iets’ wat haar aan man, kinders herinner

Irene beskryf Riaan as ‘n wonderlike man en pa wat altyd bereid was om ander mense te help. Hy was ‘n ingenieur, en, volgens haar, het sy hande vir niks verkeerd gestaan nie.

Ilani, wat nege maande getroud was, het altyd haar man, Louis, eerste gestel. Anri sou in Desember verloof geraak het, en haar aanstaande, Johann Nefdt is platgeslaan.

“Ilani en Anri se werkgewers was vol lof vir hulle toewyding en goeie werk,” vertel sy.

Christelle beskryf sy as die spontane sonskynkind wat in almal se harte ingekruip het.

“Sy het haar graad in IT en Wiskunde met lof geslaag en is in November as onderwyser by Hoërskool Roodepoort aangstel. Christelle was baie opgewonde om ‘n verskikl in haar leerders se lewens te maak, en sy en haar pa het net voor die Desember vakansie haar klaskamer gaan mooi maak, gereed om 2026 te begin.”

Daar sal altyd iets wees wat Irene aan Riaan, Ilani, Anri en Christelle herinner.

Waardeer wat jy het

“Hulle verjaarsdae sal altyd vir my kosbaar bly. En, as ons weer met vakansie na Hermanus reis, sal al die bekende strandplekke, waar hulle as kinders saam met hul pa en oupa gespeel het, my aan hulle laat dink.

“Ek dink nie ons waardeer altyd wat ons het nie, daarom moet ons mekaar waardeer en die saamwees geniet. Die Here beloof aan ons krag om die swaar van elke dag te dra; Hy gee nie vooruit nie.

“Die meegevoel van lettelik duisende mense help my ook om te aanvaar dat my rou en smart uitsonderlik is, en daarom kan ek op my laagtepunt dae sagter en meer geduldig met myself wees.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Adele Bloem

Adele Bloem has been writing for the Roodepoort Record/ Northsider since 2016 and covered a range of topics, including hard, municipal, school, sport and other community articles. Since 2019, she is the editor of the two Roodepoort newspapers, ensuring every loyal reader receives a quality offering jam packed with the news they want to read.
Back to top button