Twee vermiste jagters dood gevind ná weke lange soektog in Qwaqwa
Die Suid-Oos Vrystaatse polisie sê familielede het die liggame uitgeken, maar dat ’n nadoodse ondersoek gedoen gaan word om die oorsaak van hul dood te bepaal.
Die liggame van twee mans wat vroeër vandeesmaand tydens ’n jagtog in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat vermis geraak het, is ná ’n uitgebreide soek- en reddingsoperasie op die Sephokong-berg gevind, berig Parys Gazette.
Sello Khala (38), ook bekend as Jerry Kgala, en Fana Nale (22), ook bekend as Lefa Nale, het op Sondag 9 Augustus saam met vriende vanaf Lusaka Village vertrek om op die Hatsoanyana-plaas te gaan jag.
Die groep het onderweg in digte mis op die Sephokong-berg beland en van mekaar geskei geraak. Een van hul metgeselle kon daarin slaag om veilig sy pad huis toe te vind, maar Khala en Nale het nie teruggekeer nie.
Nadat hul families hulp ontbied het, is ’n multidissiplinêre soek- en reddingspan saamgestel om na die twee mans te soek.
Op Vrydag 14 Augustus het soekspanne Khala se liggaam op die berg gevind.
Ten spyte van die moeilike terrein en uitdagende omstandighede het die soektog voortgeduur. Nale se liggaam is uiteindelik gister, Maandag 24 Augustus, ook op die berg gevind.
Albei mans is reeds deur hul families uitgeken.
Nadoodse ondersoeke sal gedoen word om die presiese oorsaak van beide mans se dood te bepaal.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om speurderbevelvoerder Mathibela van die Phuthaditjhaba-speurdiens by 082 554 3461 te kontak.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za