Liggame van vermiste jagters op berg gekry
'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van hul dood te bepaal.
Die liggame van twee mans wat vroeër vandeesmaand tydens ’n jagtog in Qwaqwa vermis geraak het, is op Sephokong-berg gevind ná ’n uitgebreide soek-en-reddingsoperasie.
Sello Khala (38), ook bekend as Jerry Kgala, en Fana Nale, ook bekend as Lefa Nale (22), het op Sondag 9 Augustus saam met vriende vanaf Lusaka Village vertrek om by Hatsoanyana-plaas te gaan jag.
Die groep het onderweg oor die Sephokong-berg in digte mis beland en van mekaar geskei geraak. Een van hul metgeselle kon daarin slaag om veilig sy pad huis toe te vind, maar Khala en Nale het nie teruggekeer nie.

Ná hul families hulp ontbied het, is ’n multidissiplinêre span saamgestel om na die twee mans te soek.
Op Vrydag 14 Augustus het soekspanne Khala se liggaam op die berg gevind.
Ten spyte van die moeilike en uitdagende terrein het die span hul soektog voortgesit, en is Nale se liggaam uiteindelik gister, Maandag 24 Augustus, ook op die berg gevind.
Albei oorledenes is reeds deur hul families uitgeken.
Nadoodse ondersoeke sal gedoen word om die presiese oorsaak van albei mans se dood te bepaal
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met verdere inligting oor die voorval om speurder-bevelvoerder Mathibela van die Phuthaditjhaba-speurdiens by 082 554 3461 te kontak.
Inligting kan ook aan Crime Stop by 08600 10111 deurgegee word, of anoniem via die MySAPS-toepassing aangemeld word.



