Man gevonnis ná hy 2 tieners in Brits ontvoer en R110m eis
'n Man wat twee skoolleerders ontvoer en gedreig het om hulle te vermoor as hul ouers nie miljoene opdok nie, is in Pretoria gevonnis.
Die 45-jarige Boitumelo Bradly Bogatsu is gister (1 Oktober) tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis op elk van twee aanklagte van ontvoering, 10 jaar gevangenisstraf op elk van twee aanklagte van afpersing en vyf jaar gevangenisstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen.
Volgens Parys Gazette het die Pretoriase hooggeregshof gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien moet word wat ‘n effektiewe gevangenisstraf van 15 jaar beteken.
Dit volg op die staat se besluit om Bogatsu se saak van dié van sy mede-beskuldigdes te skei. Die mede-beskuldigdes: Humphrey Martin (49), Neo Nathaniel Mokoena (41), William Sendrey Phage (58), Vergilio Hlongwane (33), Nkanyiso Bright Hadebe (25), Thulane Jacob Makume (47), Stephen Pitso Kgotsane (35) en Silence Robert Makhubela (31) moet nog verhoor word.
Bogatsu en, na bewering sy mede-beskuldigdes, het op 6 Maart 2024 twee tieners, onderskeidelik 17 en 18 jaar oud, naby die Central Combined School in Brits ontvoer. Die tieners is toe na ’n huis in Klipgat geneem, waar hulle aangehou is.
Ná die ontvoering het Bogatsu die ouers van die 17-jarige meisie gebel en R50 miljoen geëis. Hy het ook die ouers van die 18-jarige seun gebel en R60 miljoen geëis. Hy het gedreig dat die tieners vermoor of uit die land gesmokkel sou word indien daar nie aan sy eise voldoen word nie.
Albei gesinne het die ontvoering dieselfde dag by die polisie aangemeld. Ná ’n ondersoek is die tieners 20 dae later, op 26 Maart 2024, opgespoor en met hulle families herenig.
Bogatsu en sy mede-beskuldigdes is in hegtenis geneem en sedertdien in aanhouding.
Bogatsu het op die aanklagte skuld erken en toegegee dat hy die tieners ontvoer en hulle ouers afgepers het, het die streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, gesê.
Die verhoor van die oorblywende beskuldigdes sal op 26 April 2027 ‘n aanvang neem.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za