Sekuriteitswag skiet vermeende koperdief in nek in Oudsthoorn

’n Verdagte is met ernstige nekbeserings na ’n hospitaal in Kaapstad geneem ná ’n skietvoorval tydens ’n soektog na vermeende koperdiewe plaasgevind het.

’n MSec Security-beampte het Saterdagoggend (24 Oktober) ’n verdagte in die nek geskiet nadat hy hom in Jonesstraat, Oudtshoorn, tydens ’n soektog na vermeende koperdiewe voorgekeer het, berig die Oudsthoorn Courant.

Volgens beskikbare inligting het die verdagte glo ‘n vuurwapen uitgehaal voordat die veiligheidsbeampte sy eie vuurwapen gebruik het.

Die verdagte is per ambulans hospitaal toe geneem. Volgens voorlopige inligting is hy intussen na ‘n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

Pieter Meiring, operasionele bestuurder van MSec Security, het Maandag (26 Oktober) gesê die voorval beklemtoon die belangrikheid van ‘n goed opgeleide gewapende reaksie-eenheid.

“Die voorval waar een van ons beamptes genoodsaak was om sy vuurwapen te gebruik, bewys dat ‘n gewapende reaksie-eenheid met goeie opleiding vandag noodsaaklik is,” het Meiring gesê.

Volgens inligting het ‘n groep mans Saterdagoggend omstreeks 07:30 koperpype van lugversorgers by Queen’s Mall afgebreek. Hulle is glo op sekuriteitskameras gewaar en het op die vlug geslaan toe sekuriteitspersoneel reageer.

Die gebou word glo gereeld deur vandalisme en diefstal geteiken. Die eienaars het daarom kameras en bewegingsensors agter die gebou aangebring.

Verdagtes vlug

Die verdagtes het glo riverlangs gevlug. Besonderhede oor die voorval, asook ‘n beskrywing van die mans, is onder die polisie, sekuriteitsmaatskappye en die buurtwag versprei.

Volgens Meiring was MSec se reaksie-eenheid deel van die span wat na die verdagtes gesoek het. Een van die reaksielede het ‘n verdagte in Jonesstraat op grond van die verspreide beskrywing opgespoor en voorgekeer.

Die verdagte het na bewering ‘n vuurwapen uitgehaal, waarna die beampte sy eie vuurwapen gebruik en hom in die nek geskiet het.

Die beampte het die voorval onmiddellik by sy beheerkamer aangemeld en nooddienste gekontak.

Toe die polisie op die toneel aankom, het die gewonde man in die straat gelê en ernstig gebloei. Noodhulp is toegepas totdat paramedici opgedaag het.

Wapen moontlik ’n replika

Tydens Oudtshoorn Courant se besoek aan die toneel was dit nog nie duidelik of die vuurwapen wat die verdagte na bewering uitgehaal het, eg of ‘n replika was nie.

Meiring het Maandag gesê hy kon dit ook nie bevestig voordat hy ‘n amptelike verslag van die polisie ontvang het nie.

“Ek het die beampte Saterdag ná die voorval besoek, en volgens die inligting wat ek ontvang het, was sy optrede heeltemal geregverdig.

“Ons reaksielede word deeglik opgelei in die hantering van vuurwapens en ook in die wetlike aspekte rondom die gebruik van vuurwapens.

“Hulle primêre doel is om beskerming te verleen. In hierdie geval het die opleiding onmiddellik ingetree en het die beampte ‘n moontlike lewensgevaarlike situasie vinnig en doeltreffend hanteer,” het Meiring gesê.

AO Chris Spies, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, het bevestig dat die polisie die voorval ondersoek.

Tweede skietvoorval

In ‘n afsonderlike voorval is ‘n verdagte Maandag (26 Oktober) omstreeks 13:00 na bewering deur ‘n polisiebeampte in Reggie Oliphantstraat in Smartie Town gewond.

Spies het by navraag gesê ‘n dossier vir poging tot moord is geopen en dat die saak na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat verwys is vir ondersoek.

Geen verdere besonderhede oor dié voorval is tans bekend nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Hannes Visser

Die berig is deur een van die Oudsthoorn Courant se korrespondente geskryf.
Back to top button