Rooi tapyt vir Afrikaanse-speurfilm

Eerste Afrikaanse James Bond-film lok honderde aanhangers.

Die rooi tapyt is Woensdagaand vir die amptelike opening van die eerste Afrikaanse James Bond-film, Agent 2000, by Irene Village-sentrum uitgerol. Honderde aanhangers wat die geleentheid aangegryp het om hul helde in lewende lywe te sien, het die aand bygewoon.

Paul Loots, Izel Bezuidenhout en Ruan Wessels, wat hoofrolle in die film speel, is die nuutste ophef in dié bedryf. Loots het al in films soos Roepman en Verraaiers gespeel en Wessels was die ster in Hoofmeisie.

Die aand voel soos ’n onwerklikheid vir die blonde Bezuidenhout, vir wie dit ook haar eerste premier is. “Ek is nuuskierig oor die mense se reaksie,” het sy gesê.

Paul, wat reeds op die rooi tapyt na sy debuut film Roepman gestap het, het gesê hierdie film is buitengewoon en het die standaarde van enige aksie flieks in Suid-Afrika verhoog.

Die fliek speel by Hoërskool Randburg af waar ’n geheime agent, Walter du Toit (gespeel deur Paul Loots) ingeroep is om die skoolboelie, Laksman, te ontmasker. Hierdie speurderfilm het ’n nuwe element in die Afrikaanse film bedryf gebring met innoverende spesiale effekte en die nuutste hoë tegnologiese uitvindsels.

Die film se regisseur, Stefan Nieuwoudt, is baie positief oor die film en hoop dat dit goed ontvang sal word. “Ek is trots op die film. Ons het hard daaraan gewerk. Die film is uniek met die spesiale effekte wat gebruik is en ek glo dit sal goed deur die publiek ontvang word,” het Nieuwoudt gesê.

Hydie Loots, Paul se ma en skrywer van die draaiboek, het gesê sy is opgewonde oor die film en glo dat dit goed ontvang sal word.

Die aand was vol verrassings. ’n Paar pryse is uitgedeel, maar die grootste prys, Agent 2000 se hoë tegnologiese horlosie, is aan die gelukkige wenner, André van der Merwe, hoofseun van Hoërskool Randburg gegee waar die film geskiet is.

Fliekgangers was egter gewaarsku om op hul hoede vir die gevreesde Laksman te wees wat ook sy verskyning daar gemaak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button