Network Sport

Kyk: Jong Ermeloër wen sy klas tydens motorfietswedren in Lesotho

Gr. 11-leerling Stiaan van den Heever van Hoërskool Ermelo is as die algehele wenner van die Roof of Africa Hard Enduro-resies se bronsklas gekroon.

Twee jong motorfietsryers van Hoërskool Ermelo, Stiaan van den Heever (gr. 11) en Paulus van Niekerk (gr. 9), het die Roof of Africa Hard Enduro-resies in Lesotho aangepak, en Stiaan is as die algehele wenner van die bronsklas gekroon.

Volgens Hoëvelder staan die resies, wat vanaf verlede Donderdag tot Saterdag plaasgevind het, as die Mother of Hard Enduro bekend weens sy uitmergelende roetes oor die Malutiberge.

Dié twee jongmense het in die bronsklas, wat uit 212 motorfietsryers bestaan het, deelgeneem.
Hulle het ‘n totale afstand van 207km oor drie dae afgelê, met die langste deel van 131km op dag twee.

  • Dag 1: Stiaan het onmiddellik gewys wat in hom steek deur die eerste plek in die 33km-tydtoets met ‘n tyd van 53 minute te verower. Paulus het ook sterk begin deur die 23ste plek te behaal.
  • Dag 2: Ten spyte daarvan dat Stiaan ‘n paar keer GPS-foute op die lang en warm 131km-roete gemaak het, het hy steeds ‘n indrukwekkende agtste plek behaal.
  • Dag 3: Stiaan het vanaf die agtste plek weggespring en vinnig die voorste deelnemer ingehaal.

Volgens sy ma, Elize, het hy die resies van sy lewe gery.

Ná afloop van die drie harde dae is Stiaan as die bronsklas se algehele wenner met ‘n totale tyd van 09:50:44 gekroon.

Hy het die tweedeplekryer met ‘n voorsprong van drie minute en 37 sekondes geklop.

Paulus, slegs 15 jaar oud, het ook uitstekend gevaar deur ‘n algehele 15de plek uit die 212 deelnemers te behaal.

Sy totale tyd op die saal was 10:46:45.

Stiaan het sy dank teenoor die mense wat hom deur dik en dun bygestaan het, insluitend sy ouers, Paul van Niekerk, Bennie van Wyk, Greg en Kym Hodgskin, en Kobus Stander, uitgespreek.

Kyk die video’s:


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button