Stiaan wen Roof of Africa-resies se brons klas
Stiaan het op die eerste dag al gewys wat in hom steek deur die eerste plek in die 33 km-tydtoets met 'n tyd van 53 minute te verower.
Twee jong motorfietsryers van Hoërskool Ermelo, Stiaan van den Heever, gr. 11 en Paulus van Niekerk, gr. 9, het die Roof of Africa Hard Enduro-resies in Lesotho aangepak, en Stiaan is as die algehele wenner van die brons klas gekroon.
Die resies, wat vanaf 22 tot 24 November plaasgevind het, staan as die Mother of Hard Enduro bekend weens sy uitmergelende roetes oor die Malutiberge.
Die twee jongmense het in die brons klas, wat uit 212 motorfietsryers bestaan het, deelgeneem.
Hulle het ‘n totale afstand van 207 km oor drie dae afgelê, met die langste deel van 131 km op dag 2.
• Dag 1: Stiaan het onmiddellik gewys wat in hom steek deur die eerste plek in die 33 km-tydtoets met ‘n tyd van 53 minute te verower. Paulus het ook sterk begin deur die 23ste plek te behaal.
• Dag 2: Ten spyte daarvan dat Stiaan ‘n paar keer GPS-foute op die lang en warm 131 km-roete gemaak het, het hy steeds ‘n indrukwekkende agtste plek behaal.
• Dag 3: Stiaan het vanaf die agtste plek weggespring en vinnig die voorste deelnemer ingehaal.
Volgens sy ma, Elize, het hy die resies van sy lewe gery.
Na afloop van die drie harde dae is Stiaan as die brons klas – algehele wenner met ‘n totale tyd van 09:50:44 gekroon.
Hy het die tweedeplekryer met ‘n voorsprong van drie minute en 37 sekondes geklop.
Paulus, slegs 15 jaar oud, het ook uitstekend gevaar deur ‘n algehele 15de plek uit die 212 deelnemers te behaal.
Sy totale tyd op die saal was 10:46:45.
Stiaan het sy dank teenoor die mense wat hom deur dik en dun bygestaan het, insluitend sy ouers, Paul van Niekerk, Bennie van Wyk, Greg en Kym Hodgskin, en Kobus Stander, uitgespreek.



