Van Parys na wêreld-onderwaterhokkiefinaal
‘n Jong Vrystaatse man se aandeel in sy onderwaterhokkiespan se sukses by die wêreldkampioenskap word aan jare se harde werk toegeskryf.
‘n Jong man van Parys in die Vrystaat was deel van die Protea-onderwaterhokkiespan wat geskiedenis gemaak het toe hulle vir die eerste keer die wêreldkampioenskapsfinaal gehaal het.
Die 20-jarige Ewan Stoltz was deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan vanjaar se o.24-onderwaterhokkiewêreldkampioenskap in Gebze, Turkye, deelgeneem het, berig Parys Gazette.
Die relatief jong Proteaspan het geskiedenis gemaak toe hulle vir die eerste keer die finaal gehaal het nadat hulle Australië, wat die gunstelinge was, in die halfeindstryd met ‘n telling van 3-1 geklop het.
Die Suid-Afrikaners het daarna in ‘n naelbyteindstryd teen Nieu-Seeland te staan gekom en uiteindelik as naaswenners met ‘n silwermedalje gespog. Die eindtelling was 2-1.
Ewan, wat al ongeveer sewe jaar onderwaterhokkie speel, het vier doele vir sy span by die kampioenskap aangeteken.
Sy prestasie was die hoogtepunt van jare se harde werk en toewyding. Ewan se eerste internasionale deelname vir Suid-Afrika was in 2024 toe hy deel van die Suid-Afrikaanse o.19-onderwaterhokkiespan was.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



