Lifestyle

Splinternuwe Liewe Heksie vir Emperors Palace

‘n Splinternuwe Liewe Heksie-verhoogproduksie sal tussen 22 en 26 Oktober, elke oggend om 11vm, in the Theatre of Marcellus, by Emperors Palace opgevoer word.

Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, is vanjaar 80 jaar jonk en, glo dit as julle wil, Liewe Heksie is vanjaar 50 jaar oud – maar Heksie word mos nooit ouer nie.

Hierdie Heksie-teaterproduksie is Liewe Heksie en die Tuindwergie genoem.

“Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ‘n tuindwergie ontmoet,” sê Verna.

“Ek wou sien wat Heksie met die dwergie doen. En, glo my, ek is seker sy gaan weer in die moeilikheid kom!

“Ons maatjies moet maar kom kyk wat vang Heksie met Casper die tuindwergie aan.”

Frans Swart, regisseur van Liewe Heksie, sê hy is baie opgewonde dat Verna die nuwe storie spesiaal vir hom geskryf het en ook aan hom toevertrou het.

“Liewe Heksie het deur die jare so ‘n groot invloed op my lewe gehad, want ek was kameraman op die Heksie-televisiereekse,” vertel hy.

“Behalwe dat ek grootgeword het met Liewe Heksie, het sy in my hart kom inkruip met die televisiereekse.

“Dit is vir my ‘n besondere eer om Liewe Heksie en die Tuindwergie op te voer, en dis so besonders, want dis ‘n vars en splinternuwe storie.”

Voor pouse word Liewe Heksie En Botterblom opgevoer.

Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad.

Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie, en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans.

Heksie is ideale vermaak vir kleuterskole, crèches, speelgroepies en laerskole. Selfs hoërskole gebruik Heksie vir kuns en kultuurprojekte.

Indien skole of groepe wil bespreek, kan Monica geskakel word by 011 815 3000 of stuur ‘n epos aan admin@lefra.com.

Vir meer inligting, besoek www.lieweheksie.com.

Related Articles

Back to top button