Lifestyle

Vyf lesers kan Ernie Bates se nuwe album wen

Sanger Ernie Bates het al baie spore die afgelope 15 jaar in die Suid-Afrikaanse sowel as internasionale musiekbedryf getrap.

Resensent: Ischke de Jager

E-pos: ischke@caxton.co.za

CD: Ek en Jy

Sanger: Ernie Bates

Plate Maatskappy: Vonk Musiek

Beoordeling: Hierdie is een van daardie albums wat jy op ’n hoë volume wil luister.

Sy lewe is aan die kuns van musiek – die skryf, vervaardiging, verwerking en bemeestering daarvan – toegewy.

Hierdie jong man met die warm stem was ook deel van die a capella-groep, Overtone. Die groep was in 2009 deur Dina Eastwood, die vrou van die befaamde akteur en regisseur, Clint Eastwood ontdek.

Ernie en sy ses kollegas in dié sewestuk-groep, het die Eastwoods só beïndruk dat hulle die meerderheid van die film, Invictus, se klankbaan opgeneem het.

Ernie het vyf van die liedjies gerangskik en vervaardig en die klankbaan was ook vir ’n Academy Award benoem.

Overtone het konsert vertonings vir groot, internasionale name soos onder meer Corinne Bailey Rae en One Republic geopen.

Die groep het ook die verhoog gedeel met Pia Toscano’s, Donna Summer, Kevin Bacon and the Bacon Brothers, David Foster, Kenny Logins en Seal.

Daarby het hulle tydens ’n privaatvertoning vir die legendariese Quincy Jones en Tony Bennet opgetree.

’n Mens sal dink dat hierdie ervarings dalk vir enige sanger genoeg sal wees, maar dit is nie die geval met Ernie nie.

Sy entoesiasme en drome strek verder en met die vrystelling van sy debuut album, Ek en Jy, slaan hy ’n nuwe rigting aan.

Daar word nie verniet gesê dat Ernie veelsydig is nie; elkeen van die 12 liedjies op die album is deur hom geskryf, gekomponeer, vervaardig en gemeng.

Ook die tromme, klawerbord, agtergrondstemme en kitare (akoesties, bas en elektries) is deur hom behartig.

Spesiale melding moet van die titelsnit, Ek en Jy, asook My Keuse Is Net Jy en As Jy Iemand So Lief Het gemaak word.

Die vraag is nie ‘of’ nie, maar eerder ‘wanneer’ Ernie sy deurbraak gaan maak …

* Vyf gelukkige lesers staan ’n kans om ’n kopie van Ernie Bates se album Ek en Jy te wen.

Om in te skryf, beantwoord die volgende vraag: Van watter a capella-groep was Ernie Bates voorheen ’n lid?

SMS jou antwoord, saam met die sleutelwoord ‘Ernie’, jou naam en epos adres na 35718.

Persone moet in Boksburg woon om in aanmerking te kom. Kompetisie sluit 23 September om 11.59vm.

Wenners sal telefonies gekontak word. SMSe kos R1.50. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button