Lifestyle

Oogsiektes onder die vergrootglas: Wat jy moet weet

Wonder jy of jy of een van jou naastes 'n oogprobleem het? Lees hier om meer uit te vind oor oogsiektes, die tekens en die behandeling daarvan.

 

Oogsorg begin reeds van geboorte af. Pas ná geboorte moet ’n pediater of dokter die baba se oë vir moontlike probleme ondersoek. Vroeggebore babas se oë, veral as daar oogsiektes in die familie voorkom, moet deur ’n spesialis ondersoek word. Laat ’n huisdokter of pediater ook gereeld jou baba en kleuter se oë ondersoek soos hy of sy groei.

As ouer kan jy na die volgende tekens dat jou kind sigprobleme het, oplet. As jy enige van die volgende waarneem, moet jy jou kind na ’n oogspesialis neem:

  • Vryf gedurig die oë
  • Erge ligsensitiwiteit
  • Swak fokus
  • Kan nie ’n bewegende voorwerp volg nie
  • Abnormale stand of beweging van die oë vanaf ses maande
  • Chroniese rooiheid of tranerigheid
  • Wit in plaas van swart pupil
  • Kan nie voorwerp op ’n afstand sien nie
  • Kan nie in die klas op die bord sien nie
  • Kyk skeel
  • Sukkel om te lees
  • Sit te naby aan die TV

1 Ambliopie

Dit is wanneer een oog nie so ’n duidelike beeld soos die ander een ontvang nie. Algemene oorsake is strabismus, refraktiewe foute (kan nie korrek fokus nie), ptose (hang-ooglid) en katarakte (melkerige oog). As behandeling vroeg begin, kan sig aansienlik verbeter word en behels dit die dra van ’n oogklappie of ’n bril.

2 Epifora 

Dit is die verstopping of abnormaliteit in die traanklier, wat kan veroorsaak dat trane teen die wange afloop. Dit klaar dikwels self op namate die kind ouer word, maar as dit langer as ’n jaar aanhou of daar gereeld infeksies voorkom, kan dit met ’n klein operasie reggestel word.

3 Chalasion

Dit is ook bekend as meiboom-sist en is ’n klein swelling in die ooglid weens verstopping van die kliertjies. Dit kan rooi vertoon en ’n geel afskeiding hê. Daar kan meer as een op ’n ooglid voorkom en kan een of albei oë aantas. Jou huisdokter kan dit behandel, maar as dit ná ’n paar maande nie opklaar nie, moet die kind na ’n oogspesialis verwys word.

4 Konjunktivitis

Dis ook bekend as pienk-oog en kan ’n virale of bakteriese infeksie wees, wat baie aansteeklik is, maar dit kan ook ’n nie-aansteeklike allergiese reaksie wees. In albei gevalle is die oog rooi of pienk weens die inflammasie van die dun membraan aan die binnekant van die ooglid en die wit deel van die oog. Die oog traan, het ’n afskeiding en dit is ongemaklik en jeukerig. Dit klaar gewoonlik na drie tot sewe dae, waartydens die kind kontak met ander kinders moet vermy, op.

5 Strabismus

Dit word ook skeeloog genoem en is ’n toestand waar die een oog pal of sporadies in ’n ander rigting as die ander een kyk. Dit kan van geboorte af teenwoordig wees of later ontwikkel. Die sig in die geaffekteerde oog sal nie normaal ontwikkel nie en dit gaan ook nie self weg nie. Hoe gouer behandeling begin, hoe beter is die uitkoms. Behandeling sluit ’n bril, ’n oogklap, oefening, chirurgie of ’n kombinasie daarvan in.

Hoe ouer jy word, hoe groter is die kanse dat jy ernstige oogprobleme kan ontwikkel. Hoe gouer die probleem hanteer word, hoe beter is die kans dat jy jou sig kan behou. Dit is daarom belangrik om jou oë minstens een keer per jaar te laat ondersoek.

Gloukoom

Gloukoom kom voor wanneer die druk in die oog verhoog, wat die optiese senuwee kan beskadig. Die optiese senuwee dra al die inligting van die oog na die brein toe oor en as dit eers beskadig is, kan dit nie weer herstel word nie.

Gloukoom is die grootste oorsaak van onomkeerbare blindheid en beïnvloed 70 miljoen mense wêreldwyd. Ongelukkig het gloukoom gewoonlik geen simptome nie en 90% van mense wat gloukoom het, is nie eens daarvan bewus nie. Dit is hoekom dit belangrik is om gereeld vir oogtoetse te gaan, want dis al hoe dit gediagnoseer kan word.

Risiko-faktore sluit ouderdom, ’n familiegeskiedenis van gloukoom, die gebruik van steroïede, by- en versiendheid, oogbeserings, katarakte en sekere mediese toestande soos diabetes, hoë bloeddruk en migraines in.

’n Gesonde lewenstyl kan sekere soorte gloukoom help voorkom, maar oor die algemeen kan gloukoom nie voorkom word nie. Gloukoom kan ook nie genees word nie en moet lewenslank behandel word om sigverlies en blindheid later te probeer voorkom.

Behandeling behels die vermindering van druk in die oog met oogdruppels, laserbehandeling en/of chirurgie.

Katarakte

Katarakte is algemeen onder mense ouer as 60. Dit ontwikkel stadig en jy sal dit dalk nie eens agterkom nie, totdat dit lig begin blokkeer. Die lens van jou oog bestaan uit water en proteïen, maar soos jy ouer word, kan die proteïen begin saampak en kan lig die lens nie behoorlik binnedring nie.

Simptome sluit in:

  • Jou sig raak mistig, dof of melkerig.
  • Jy kan bysiende raak.
  • Jy kan kleure anders begin waarneem.
  • Jy sal begin sukkel om saans te bestuur, veral as karligte van voor af skyn.
  • Ligsensitiwiteit bedags.
  • Soms dubbelvisie in die aangetaste oog.
  • Jou bril of kontaklense werk nie meer so goed nie.
  • Jy sien stralekranse om ligte.

Aan die begin is ’n lensvervanging nie nodig nie en kan ’n sterker voorskrif vir jou bril jou help om beter te sien. Gebruik ’n skerper lig as jy lees of handwerk doen. Wanneer jou sig egter erg aangetas word, is chirurgie al opsie, waartydens die ou lens verwyder en met ’n nuwe lens vervang word.

Risiko-faktore is ouderdom, rook, as jy nie jou oë teen die son beskerm nie en ’n familiegeskiedenis van katarakte. Vroue word meer as mans daardeur geraak.

Ouderdomverwante makulêre degenerasie

Die toestand affekteer die makula, ’n kol in die middel van die retina wat vir gefokusde sentrale visie verantwoordelik is. Mense met makulêre degenerasie raak nooit heeltemal blind nie. Aanvanklik sal voorwerpe in jou sentrale visie dof en verwring voorkom en soos dit ontwikkel, raak die sentrale visie heeltemal weg en sien jy net ’n dowwe kol. Die periferiese visie bly egter helder.

As net een oog beïnvloed word, kompenseer die ander oog nog daarvoor, maar as albei geraak word, kan jy nie meer sien om te lees, bestuur of alledaagse take te verrig nie.

Makulêre degenerasie kan tot op hede nog nie genees word nie, maar anti-angiogeniese inspuitings in die oog kan dit help vertraag.

Risiko-faktore is ’n familiegeskiedenis van makulêre degenerasie, hoë bloeddruk en rook.

Diabetiese retinopatie

Diabetes veroorsaak abnormale veranderinge in die retina se bloedvate en lei daartoe dat dit begin lek en groei waar dit nie moet nie. Hierdie nuwe bloedvate is geneig om stukkend te gaan en te bloei. Soos dit probeer herstel, trek die beskadigde bloedvate saam en trek dit die retina los.

Simptome sluit in skaduwees of donker voorwerpe wat voor jou oë “verbysweef”, dowwe of verwronge visie, gedeeltelike sigverlies en pyn in die oog. Dit kan uiteindelik tot blindheid lei.

Aanhoudende hoë bloedsuiker en hoë bloeddruk word met retinopatie verbind. Sekere medikasie wat vir Tipe 2-diabetes geneem word om hoë bloedsuiker te beheer, kan die risiko vir retinopatie verhoog.

Diabetiese retinopatie kan nie genees word nie. Laserbehandeling kan help om sigverlies te voorkom as die retina nog nie uitermatig beskadig is nie.

ONVERKLAARBARE OOGPYN

Skielike oogpyn kan deur interne bloeding, ’n gekrapte kornea of droë oog veroorsaak word . As jy daarmee saam prikkels op jou vel voel, kan dit vroeë simptome van gordelroos wees, ’n virale infeksie met ’n pynlike uitslag.

UITERMATIGE ROOIHEID OF SWELLING

Dit is dikwels iets wat maklik behandel kan word soos droë-oog-sindroom of konjunktivitis, maar dit kan ook ernstiger oorsake hê wat mediese hulp verg, soos uveïtis of skleritis. Dit kan weens ’n besering voorkom, maar word meer dikwels deur ’n outo-immuunsiekte, rumatoïede artritis of lupus veroorsaak. Sensitiwiteit vir lig en dowwe sig kom gewoonlik ook hiermee voor. As dit nie behandel word nie kan dit tot permanente sigverlies lei.

’n SKIELIKE TOENAME IN FLITSE EN DRYWENDE EILANDJIES (floaters)

Drywende eilandjies is swart kolletjies of lyntjies wat jy sien as jy byvoorbeeld na ’n wit muur of die blou lug kyk en kom algemeen by ouer mense voor. Dis meestal skadeloos, maar as dit skielik meer word, kan dit ’n aanduiding wees dat die retina van sy normale posisie agterin die oog losskeur. Kom onmiddellik by ’n spesialis uit.

SKIELIKE DOWWE SIG (veral in een oog)

Dowwe verwronge visie wat skielik voorkom is ’n klassieke teken van ouderdomverwante makulêre degenerasie. Skielike dowwe sig kan ook ’n teken wees van retinale loslating, ’n katarak of diabetiese neuropatie, of selfs van ’n beroerte of breingewas, daarom moet jy dadelik mediese hulp kry.

DUBBELE VISIE

Sien jy twee identiese beelde langs mekaar of bokant mekaar? Hou die een oog toe en kyk of jy nog dubbeld sien. Dan het jy monokulêre diplopie. Dit kan veroorsaak word deur droë-oog-sindroom, die begin van ’n katarak of die oog se vorm wat weens ouderdom verander. As jy met albei oë dubbeld sien word dit binokulêre diplopie genoem en is dit baie ernstiger. Dit kan ’n teken wees van ’n beroerte, breingewas, aneurisme of onbeheerde hoë bloeddruk of diabetes. Dis dan nodig om so gou as moontlik mediese hulp te kry.

 

Lees ook: Uitbranding: Alles wat jy moet weet

Die artikel Oogsiektes onder die vergrootglas: Wat jy moet weet het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

 
Back to top button