5 jaar in Serwiese tronk vir georganiseerde misdaad: SA-man veg nou vir ‘regte Koning’
Greg Ferraris is in 2015 in Montenegro gearresteer in besit van ‘n wapen, vervalsde paspoort en bewyse van ‘n moordkomplot.
‘n Man van De Deur naby Johannesburg sê dat vyf jaar in ‘n buitelandse tronk, nadat hy by ‘n groep wat huurmoorde beplan betrokke geraak het, sy lewe onherroeplik verander het.
Vaalweekblad berig hierdie tyd in die tronk het Greg Ferraris (34) se lewe vir altyd verander. ‘n voormalige soldaat en aspirant huurmoordenaar sê dit was juis agter tralies dat hy sy geloof, waardigheid en uiteindelik sy doel gevind het.
Van soldaat tot gevangene in die Balkan
Ferraris, oorspronklik van Suid-Afrika, is in 2015 in Montenegro in hegtenis geneem en later in Serwië tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir sy betrokkenheid by georganiseerde misdaad.
“Ek was 23 toe ek gearresteer is,” vertel hy. “Ek het vyf jaar en een dag agter tralies deurgebring en is op 29 vrygelaat.”
Sy pad voor sy inhegtenisname was kronkelrig.
Ná werk op ’n sekuriteitskontrak in Mosambiek en ’n mislukte poging om by die Franse Vreemdelingelegioen (French Foreign Legion) aan te sluit, het hy by ’n groep beland wat betrokke was by die beplanning van huurmoorde op bendebase in Balkan-lande.
Op die oggend van sy eerste beplande huurmoord het Ferraris egter besluit om nie voort te gaan nie.
Ure later is hy by ‘n padblokkade in besit van ’n vervalsde paspoort, ‘n wapen en bewyse van die komplot gearresteer.
Tronkstraf was ‘n ‘tyd van hel’
“Ek het in die tronk beland met net ’n kortbroek, ’n T-hemp en ’n Bybel,” sê hy.
“Vir weke het ek sonder toiletpapier of ‘n tandeborsel klaargekom. My enigste gesprekke was met God.”
Hy beskryf sy tyd in die tronk as ‘n tydperk van hel, maar ook van groei.
“Ek het geleer wat dit beteken om jou woord te hou. Wanneer geld nie meer tel nie, is eer alles.”
In 2020 is Ferraris vrygelaat na Suid-Afrika gedeporteer.
Ferraris bied nou hulp aan ander
Ná ’n moeilike aanpassing en nog ’n botsing met die gereg, het hy in 2023 by die Walking With Winners-rehabilitasiesentrum in De Deur beland – dié keer uit vrye wil.
“Dis die eerste keer in meer as tien jaar dat ek werklik vry voel,” sê hy.
“Ek leef nie meer met skuld en skaamte nie. Ek wil ander wys dat verlossing moontlik is, maak nie saak hoe diep jy geval het nie.”
Vandag help Ferraris ander mans om hul pad uit die duisternis te vind en om, soos hy sê, ‘vir die regte Koning te veg’.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za