Bedryf bekommerd oor varkpes-uitbraak in die Tuinroete

Gemeenskappe in die Tuinroete is gevra om nie enige varke of varkprodukte uit die area te verwyder nie, aangesien die siekte so na ander dele versprei.

Kommersiële landbou en slagpaal-eienaars is bekommerd oor die verspreiding van varkpes (African Swine Fever) op die Tuinroete en na die res van die land as die regte prosedures nie gevolg word met die sporadiese uitbraak van dié siekte nie.

Volgens ‘n mediaverklaring deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat op 17 Mei uitgereik is, is varkpes op 19 April by varke in die KwaNonqaba-gebied in Mosselbaai, bevestig. Sowat 40 varke is dood en die sowat 200 oorblywende varke is onder kwarantyn geplaas.

Henry Meyer, streeksverteenwoordiger van Agri-Weskaap, sê varkpes is ‘n staatsbeheerde siekte wat onmiddellik bekamp moet word wanneer dit uitbreek.

Een manier is om padblokkades te hou om die vervoer van varke te beperk.

Die hokke in KwaNonqaba waar 40 varke weens varkpes gevrek het. Foto: Jannie du Plessis

“Kommersiële boere word met hul opleiding geleer van mens- en diergesondheid, wat op die versorging van en handeldryf in lewende wesens van toepassing is.

“Informele boere wat op klein skaal met varke en ander lewende hawe boer, is gewoonlik nie opgelei of ingelig oor dié reëls nie. Ons is baie bang dat die siekte nasionaal kan versprei, wat ‘n vernietigende uitwerking op alle varkboere, die voedselbedryf en die ekonomie kan hê,” het Meyer gesê.

‘n Slagpaal-eienaar, wat verkies om anoniem te bly, beweer die uitbraak van varkpes in KwaNonqaba is vir drie weke stil gehou met die gevolg dat varke rondgeskuif is en die siekte na George en Plettenbergbaai versprei het.

Die slagpaal-eienaar: “Die regte prosedures is nie gevolg nie. As varkpes uitbreek, moet die area onder kwarantyn geplaas word, die siek diere moet van kant gemaak en die karkasse verbrand word. Dit help nie om die diere te skuif en die karkasse te begrawe nie. Dis ‘n aansteeklike siekte.”

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button