Bejaarde bel dogter uit kattebak na hy in die maag geskiet is in Brakpan

‘n Gewapende man het eers die geweer teen sy slagoffer se kop gehou voor hy hom in die maag geskiet het.

‘n Bejaarde man van Brakpan is in die maag geskiet en in die kattebak van sy eie motor gelaai waarna sy aanvaller die motor gesluit en verdywn het. Die slagoffer kon hulp ontbied omdat hy steeds sy selfoon by hom gehad het.

Angsvolle oomblike om by beseerde pa uit te kom

Die dogter van die 75-jarige slagoffer het die angsvolle oomblikke beskryf nadat sy ‘n oproep om hulp van haar pa ontvang het.

Die familie het versoek dat hul identiteit en sekere besonderhede nie bekend gemaak word nie.

Die bejaarde man is verlede Dondedag deur ‘n gewapende man oorval terwyl hy sy vrou se graf, wat in Augustus 2018 oorlede is, in die Brakpan begraafplaas gaan besoek het.

“Soos ons verstaan het die man eers die vuurwapen teen my pa se kop gedruk voordat hy hom in die maag geskiet het,” het sy dogter (46) vertel.

Die man het die gewonde bejaarde in die kattebak van sy eie voertuig gelaai en probeer om die motor aan die gang te kry.

“Gelukkig het my pa sy selfoon by hom gehad en kon hy daarin slaag om my te kontak en te sê dat hy geskiet is en in die kattebak van sy voertuig by die begraafplaas is.”

Die dogter, wat in die omgewing woon, het haar suster en swaer gebel waarna hulle hul pa te hulp gesnel het.

“Met ons aankoms was die motor gesluit en ons kon nie die sleutel vind nie,” vertel sy.

“Daar was geen teken van die persoon wat my pa geskiet het nie. Die motorruit aan die bestuurder se kant was gelukkig oop en my swaer het in die kar geklim om by ons pa uit te kom.

“My swaer het die agterste sitplek laat sak sodat ons my gewonde pa uit die voertuig kon kry.”

Die ernstig beseerde man is na ‘n hospitaal geneem waar hy later ‘n operasie ondergaan het.

“Ons is net ongelooflik dankbaar dat die man nie my pa se selfoon gevat het nie en dat hy nog in staat was om ons te kontak vir hulp. Die blote feit dat daar genoeg sein was vir die selfoon om in die geslote kattebak te werk, is ook ‘n wonderwerk op sy eie,” sê die dogter.

Volgens haar, het haar pa sy oorlede vrou se graf byna daagliks gaan besoek.

Weldoeners staan wag sodat grafbesoekers veilig is

Die gesin het groot lof gehad vir Brenthurst inwoner, Pieter van der Merwe (73) wat hulle te hulp gesnel het.

Van der Merwe doen al vir jare lank, veral op Sondae, diens by die begraafplaas om toe te sien dat besoekers veilig is.

Hy is ‘n kennis van die gesin en het onmiddellik na die toneel gehaas toe hy van die voorval te wete gekom het. Hy is ook vergesel deur lede van die Brakpan GPF.

Polisie waarsku daarteen om begraafplaas alleen te besoek

Die Brakpan SAPD het by monde van Luitenant Kolonel Peet van der Schyff gesê dat die publiek baie versigtig moet wees wanneer hulle die begraafplaas besoek.

Van der Schyff het aanbeveel dat mense nie die begraafplaas alleen moet besoek nie.

“Dit hou veral vir bejaarde mense en vroue ‘n gevaar in en waar moontlik moet mense liewer in groepe gaan,” sê hy.

“Daar is baie wegkruipplek vir kriminele in ‘n begraafplaas en die publiek moet dus hul oë en ore oophou [vir verdagte persone].”

Daar is individue en organisasies wat van tyd tot tyd diens doen by die begraafplaas en selfs mense begelei tot die grafte van hul geliefdes.

“Dit sal raadsaam wees om grafte te besoek wanneer hierdie tipe van bystand beskikbaar is,” sê Van der Schyff.

Hy het bevestig dat ‘n saak van poging to moord ondersoek word na Donderdag se skietvoorval.

 

Read original story on brakpanherald.co.za

 
Back to top button