Bloemfontein-ma kry 15 jaar vir kind se gifmoord

'n Ma van twee kinders is gevonnis vir die moord op haar vierjarige dogter en die poging tot moord op haar ander kind (10).

’n Ma van Bloemfontein is 15 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op haar minderjarige kind nadat sy haar opsetlik vergiftig het.

Die ma (32) is Woensdag skuldig bevind aan moord en poging tot moord op haar kinders, sê Mojalefa Senokoatsane, die Vrystaatse en Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.

Die vrou, wat by ’n kettingwinkel in die stad gewerk het, sal die vonnisse van 15 jaar vir moord en 15 jaar vir poging tot moord gelyklopend uitdien.

Volgens Senokoatse het die ma op 8 Augustus 2023 vir haar twee kinders kos voorberei toe sy vir hulle ingemaakte vis gegee het wat met organofosfaat besmet is – ’n stof wat in insekdoder voorkom.

“Toe die pa van die werk af kom, het hy die kinders siek by die huis aangetref, waarna die ma teenoor hom erken het dat sy hulle vergiftig het. Hulp is ontbied en die kinders is na die hospitaal gehaas,” sê Senokoatse.

Die vierjarige is oorlede, maar die 10-jarige dogter, vir wie die ma ook probeer vergiftig het, het oorleef. Die ma is daarna in hegtenis geneem en aangekla van die moord op haar jongste en poging tot moord op haar ander kind.

Om die identiteit van haar oorlewende dogter te beskerm, word die ma se naam ingevolge wetgewing weerhou.

Volgens Better Health is daar spesifieke simptome om na op te let indien jy vermoed dat jou kind gif ingekry het, soos ’n seer keel, probleme met asemhaling, lomerigheid, naarheid, braking of maagpyn sonder koors.

Die kind se lip sal moontlik vol sere of blase wees, of brand. Kinders kan ook meer kwyl as gewoonlik of hulle asem sal vreemd ruik.

Ouers word ook aangeraai om nie kinders te laat braak nie, en so gou moontlik by die dokter uit te kry.

Lees die oorspronklike berig op OFM Nuus.

Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button