Boer (82) in Vrystaatse hof ná hy glo jong man skiet

'n 18-jarige is in sy rug en skouer geskiet soos hy en sy vriend weggejaag het nadat die beskuldigde glo op hulle gevloek het.

‘n Vrystaatse boer wat na bewering ’n jong man geskiet het, het gister in die hof verskyn. Die 82-jarige boer van Ladybrand is Sondag op twee aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op die verdagte se vuurwapen.

Na bewering het ‘n 18-jarige man en sy 19-jarige vriend van ’n ander plaas in die distrik Vrydag omstreeks 20:30 op die plaas gejag toe hulle deur die verdagte gekonfronteer is, sê polisiewoordvoerder Mmako Mophiring.

“Die boer het hulle glo gevloek waarna hulle met hul motor weggejaag het. Die boer het hulle egter agternagesit en op hulle begin skiet. Die 18-jarige wat bestuur het, is in die rug en skouer geskiet,” sê Mophiring. Die vriend het verder bestuur en na hulle plaas gery waar die man se oom met hom na ’n hospitaal in Bloemfontein gejaag het.

Dié saak se uitkoms was nie teen tye van publikasie bekend nie.

Soortgelyke voorval

In April is ‘n 35-jarige man doodgeskiet nadat hy glo onwettig op Joseph Jan Shabango (48), ’n boer van Bethal in Mpumalanga, se plaas gejag het.

Verskeie skote is afgevuur en die man is op die toneel dood verklaar. Die vuurwapen wat in die skietery gebruik is, is in die boer se besit gevind. Drie patroondoppies is op die toneel gekry.

Shabango het hom ná die skietery aan die polisie oorgegee nadat ’n vriend van die oorledene ongedeerd van die toneel gevlug het. Die verdagte is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Lees die oorspronklike berig op OFM Nuus.

Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button