Borgtog van R150 000 vir Steinhoff-hoë
Stéhan Grobler, voormalige hoof van regsake by Steinhoff, kan 'n boete van meer as R1 biljoen opgelê word indien hy skuldig bevind word aan die klagtes wat gister in 'n hof in Pretoria aan hom gestel is.
Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria het gister Stephanus Johannes (Stéhan) Grobler (64) op borgtog van R150 000 vrygelaat.
Hy het die naweek agter tralies deurgebring.
Landdros Nicca Setshogoe het sy saak tot 26 Junie uitgestel.
Kolonel Katlego Mohale, woordvoerder van die Valke, sê ’n lasbrief is verlede week op 20 Maart vir Grobler en Steinhoff-hoof Markus Jooste se inhegtenisneming uitgereik.
Hy het homself volgens Mogale Vrydagaand aan die polisie oorgegee.
Grobler sou saam met wyle Markus Jooste,(63) voormalige hoof van Steinhoff, in die hof moes verskyn.
Jooste het volgens polisieverklarings verlede Donderdag sy lewe geneem deur homself te skiet naby sy huis by Voëlklip in Hermanus.
Hy sou hom saam met Grobler aan die polisie moes oorhandig.
Grobler was voorheen die maatskappysekretaris en hoof van regsake by Steinhoff.
Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat Grobler na bewering dokumentasie geskep het om bedrogtransaksies te ondersteun en die jaarstate van die Steinhoff organisasie glo vervals het.
Grobler staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog van R21 biljoen, die oortreding van die wet op die Beheer van Finansiële Markte, die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, die Maatskappywet en die Wet op die Voorkoming van Korrupte Bedrywighede.
Jooste is ’n dag voor sy dood ’n boete van R475 miljoen deur die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor opgelê. Dit is betaalbaar voor 19 April.
Indien skuldig bevind op die klagtes, kan Grobler ’n boete van R1 biljoen of lewenslange tronkstraf opgelê word.
Read original story on www.citizen.co.za