Bye eis boer en sakeman se lewe in Parys

’n Vrystaatse boer is dood nadat hy twee dae voor die nuwe jaar deur bye oorval is.

‘n Swerm bye het Maandag, 30 Desember, die lewe ge-eis van Sarel van der Watt, boer en sakeman van die plaas Brakfontein in die Parys-distrik. Hy was 64 jaar oud.

Van der Watt is deur die bye oorval toe hy die middag die pad op sy plaas geskraap het – iets wat hy oudergewoonte dié tyd van die jaar sou doen na die reën.

Sy dogter Annika vertel dat Van der Watt met die jare ‘n ernstige allergie vir bye en perdebye ontwikkel het, wat telkens vererger het wanneer hy deur ‘n by gesteek is. Dié keer was die skok op sy liggaam net té groot.

Sy skielike dood laat nie net ‘n groot leemte in sy gesin en familie nie, maar ook in die gemeenskap waar hy sy lewe lank betrokke was.

Met sy broer en suster wat albei in die polisiediens was, was misdaadvoorkoming iets wat hom na aan die hart gelê het. Geen opoffering of uitdaging was vir hom ooit te groot nie. Ook nie wanneer daar vir ure aaneen teen verwoestende brande baklei moes word nie. Hy het sy omgee vir mense uitgeleef waar hy kon.

Van der Watt is gebore in die Ottosdal-distrik. Hy matrikuleer in Naboomspruit, en bekwaam hom daarna as elektrisiën.

Sy liefde vir boer het jonk begin, en vestig hy nadat hy weermag toe was, hom in Parys op die familieplaas, Brakfontein, waar hy ook sy eie besigheid begin het.

Hy en sy vrou, Helen, het self die huis op die plaas gebou, en dit was sy droom om op die plaas af te tree wat hy ook die voorreg gehad het om te kon doen.

“Al is die hartseer groot, weet ons dat hy met baie vrede en geluk weg is. Hy het ‘n paar keer die jaar gesê as sy tyd kom, sal hy gereeds wees, want hy het ‘n vol lewe gehad, en bereik wat hy wou. Hy was so bitter trots op ons almal en wat ons bereik het,” het sy kinders gesê.

Van der Watt word oorleef deur Helen, sy kinders, twee kleinseuns en kleindogters, wie net die mooiste herinneringe sal koester van ‘n geliefde eggenoot, pa en beste oupa. “Ons gaan hom vreeslik mis.”

Die gedenkdiens vir Van der Watt word Vrydag, 3 Januarie, om 10:00 vanuit die Hervormde Gemeente, Parys, gehou.

Na die diens sal hy op Brakfontein te ruste gelê word.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.
Back to top button