Dubbele moord in Limpopo: Eggo-grotte egpaar se moordernaars steeds soek

’n Plaaswerker asook 'n toergids wat by die grotte was, het beide 'n man met 'n klapmus aan van een van die slagoffers se huise sien vlug.

‘n Uitgebreide polisie- en burgerlike soektog ná Saterdag 3 Junie se moorde by die Eggo-grotte, word steeds voortgesit. Honde het die vermeende verdagtes se spore tot by ‘n nabygeleë informele nedersetting, die Mokutong-trustgebied, gevolg, waar dit tussen die blyplekke verlore geraak het.

Anneke Claassen (76) en haar vriend, Hennie Claassen (77), is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek, waar die bekende grotte geleë is, vermoor en aan die brand gesteek.

Die Limpopo polsiie het bevestig dat beide slagoffers in hul onderskeie huise gemartel is voordat hulle aan die brand gesteek is. Dit is onseker of hulle reeds dood was toe hulle verbrand is. Tydskrifte en komberse is op hul liggame gepak om as verbrandingsagent te dien.

Anneke is Saterdag omstreeks 13:00 vir die laaste keer lewend gesien toe sy etes gaan afhaal het by die grotte se hotel.

Die ingang na die bekende grotte.

 

“Ons vermoed my ma het eers vir oom Hennie sy bord kos geneem en daarna is sy na haar huis. Die verdagtes het haar moontlik ingewag, of sy het hulle betrap. Daar is met die kluis gepeuter. Ons kan net bespiegel wat gebeur het. Maar van wat ons kan aflei is niks gesteel nie. Oom Hennie was my pa se neef en ‘n sielsgenoot vir my ma,” sê Carla le Roux, Anneke se dogter.

‘n Plaaswerker het omstreeks 14:15 alarm gemaak toe hy ‘n verdagte met ‘n klapmus van Hennie se huis sien weghardloop het.

Die hotelbestuurder en werkers het terselfdertyd gemerk dat Hennie se huis aan die brand is. Daar was twee toergroepe ten tye van die aanval by die grotte. Een van die toergidse het aan die polisie bevestig dat hy ook die man met die klapmus sien weghardloop het.

Volgens Cor Cross, woordvoerder van die Ohrigstad-boerevereniging, was hulle net na 14:30 op die toneel. Altesaam 61 vrywilligers het Saterdag saam met die SAPD aan ‘n soektog na die verdagtes deelgeneem. ‘n Operasionele beheersentrum is by Marxpak naby die grotte vir die doel gestig.

“Deur hierdie gekoördineerde aksie het die soektog oor 14 km gestrek. Dit het padblokkades naby die plaas ingesluit en uitkykpunte op berge in die omgewing,” sê Cross.

Verskeie reaksie-eenhede en plaaswagte van Lydenburg, Ohrigstad, Burgersfort, Hoedspruit en Tzaneen was by die soektog betrokke.

Hier is Anneke Claassen in ‘n onlangse foto saam met haar kinders, Carmen Human, Carla le Roux, Jan-Daniël Claassen. Foto verskaf.

 

“My ma was nie ‘n bang mens nie. Ek moes haar altyd herinner om alles te sluit. Sy het mense vertrou. Sy was baie gemaklik met almal en het opregte liefde en belangstelling aan almal getoon. Sy was ‘n mededeelsame mens en het almal in haar lewe bederf. Baie mense gaan haar mis.

“Die plaas is sedert 1920 in die Claassens se besit en die grotte is in 1923 ontdek. Ohrigstad sal altyd ons huis wees. Dis moeilik om my in te dink om plaas toe te ry en my ma is nie meer daar nie,” het Le Roux gesê.

Volgens lt.gnl. Thembi Hadebe, die Limpopo-polisiekommissaris, is die motief vir die moorde nie bekend nie. Hadebe het ook gesê die getal verdagtes is nog nie bepaal nie.

Sy versoek enigiemand met inligting rondom die moorde om kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of sers. Phaladi Makola by 082 749 2233 te skakel.

Anneke laat drie kinders en twee stiefkinders agter. Hennie laat vyf kinders agter. ‘n Roudiens vind Saterdag om 10:30 by die Eggo-grotte vir beide slagoffers plaas.

Read original story on lowvelder.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button