Dubbele tragedie: Oudtshoorn-broers sterf dae uit mekaar
Die familie van twee broers van Oudtshoorn wat slegs vier dae uit mekaar oorlede is, sê hulle is platgeslaan deur die ondenkbare verlies.
Die plaaslike gemeenskap is in rou gedompel ná die skielike dood van Richard en Corné Swart. Vir hul naasbestaandes is die dubbele slag ’n pyn wat moeilik in woorde omgesit kan word.
Richard (42) is op 20 Februarie oorlede in ’n noodlottige motorfietsongeluk op die Safaripad. Hy was ’n bekende gesig in die dorp en die pa van twee seuns berig die Oudtshoorn Courant.
Terwyl die familie besig was om die skok van sy dood te verwerk, het die volgende terugslag gevolg: Sy jonger broer, Corné (36), het slegs vier dae later op 24 Februarie sy stryd teen kanker verloor.
Hul suster, Bennedette Landman, sê die familie se wêreld is onherroeplik verander.
“Ons is verpletter. Om twee broers in dieselfde week te verloor, is ’n pyn waarvoor ’n mens nooit regtig kan voorberei nie,” sê sy.
Richard was die oudste van vier kinders, terwyl Corné die jongste van die drie broers was. Hulle laat hul suster, broer Louis, pa Wessel Swart, en hul ma Magda Scholtz agter.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com