Egpaar ernstig beseer ná motorfietsongeluk met trop koedoes op N1
Die egpaar van Potchefstroom was op pad na Pretoria en Hartbeespoortdam toe die ongeluk verlede week plaasgevind het.
Die adjunkpresident van Potch Bulldogs Motorfietsklub, Martin Nass, en sy vrou, Janine, is ernstig beseer nadat ‘n trop koedoes voor hulle op die N1 naby Drie Susters ingehardloop het.
Die Nass-egpaar was saam ‘n ander egpaar, Max en Sam Larue – Christian Motorcyclists Association (CMA) se Gauteng-Noordstreek president – op pad na Pretoria en Hartbeespoortdam, toe die ongeluk omstreeks 07:00 op 20 Februarie plaasgevind het. Altwee egpare het beheer oor hulle twee BMW GS-motorfietse verloor.

Martin was saam met Janine en die Larue-egpaar in die Wes-Kaap vir die jaarlikse Freedom Road Rally in Saldana Baai wat deur die Wes-Kaapse takke van CMA aangebied was.
Die CMA Wonderboom het die nuus aanvanklik op sosiale media gedeel en gevra vir ondersteuning en gebede rondom die herstel van die egpare. Volgens die vorige plasing het Martin sagte weefselskade opgedoen, terwyl sy sleutelbeen ook gebreek is. Sy linkerskouer het ook seergekry.
Janine het ligamente in haar knie geskeur en twee gebreekte ribbes sowel as haar gewrig gebreek en haar voet. Max se been en bekkenbeen is gebreek, terwyl Sam se been ook gebreek is. Max wag nog om vervoer te word van George na Pretoria vir sy operasie omdat die operasie nie in George aangebied kan word nie.

Janine herstel tans van haar beserings by ‘n privaat hospitaal in George. Sy, Max en Sam is aanvanklik van ‘n hospitaal in Beaufort-Wes oorgeplaas om operasies in George te ondergaan.
Martin is Vrydag ontslaan nadat hy Donderdag in George geopereer is.
Die president van Potch Bulldogs, Jannie Delport, noem dat Martin en Janine al albei vyf jaar aktief lede van die klub is.
“Ons klub en CMA bly maar net bid vir vinnige beterskap en dat die herstelproses so spoedig as moontlik sal geskied,” sê hy.
Read original story on www.citizen.co.za