Fratsongeluk in Oos Kaap eis 15 lewens
Die vragmotor se sleepwa het omgeslaan in die aankomende baan op die presiese tyd toe 'n taxi daar gery het.
Al die insittendes van ‘n mini-bus taxi, waaronder twee babas, is gisteraand dood in ‘n botsing met ‘n trok in die Oos Kaap.
Die ongeluk, wat as ‘n fratsongeluk beskryf word, het op die N9-verbypad by Middelburg plaasgevind.
Volgens kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse-polisiewoordvoerder, word daar beweer dat die vragmotor vanaf Graaff-Reinet onderweg was. Die bestuurder het glo beheer oor die trok verloor, vermoedelik na hy ‘n dier getref het.
Die sleepwa van die vragmotor het toe in die aankomende laan beland en met die taxi, wat in die rigting van die Wes-Kaap gery het, gebots.
Die Citizen berig dat die ongeluk net na 23:00 plaasgevind het.
Die Daily Maverick berig dat die slagoffers op pad huis toe was nadat hulle ‘n begrafnis in Tsolo bygewoon het.
Die Oos-Kaapse woordvoerder vir die departement van vervoer, Unathi Binqose, sê dat dit ‘n fratsongeluk was en dat die trok se sleepwa omgeslaan het op die presiese tyd toe die taxi langs dit was in die teenoorgestelde baan.
Twee babas, onderskeidelik twee jaar en twee maande oud, asook nege vroue en vier mans het hul lewens verloor.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com