George kindermoord: Ma doen aansoek om borg

’n Ma en haar vriend word beskuldig dat hulle ’n negejarige seun met 'n sambok en 'n staalpyp doodgeslaan het.

Die twee beskuldigdes, ‘n ma en haar kêrel, wat van die moord van klein Juwayne Domingo (9) aangekla word, het gister in die George-landdroshof in die Wes Kaap vir ‘n borgtogaansoek verskyn.

Chantelle Domingo (32) en Ray Morgan Cronjé (32)  is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná die seun glo met ‘n sambok en ‘n staalpyp doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.

Die polisie het die twee op aanklag van moord in hegtenis geneem nadat hulle na die toneel in Jakarandastraat in Pacaltsdorp uitgeroep is.

Juwayne was reeds in ‘n ambulans toe die polisie op die toneel aankom.

Volgens Sers. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die kind veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene gehad. Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar.

Hulle het Dinsdag 16 Mei hul eerste verskyning in die hof gemaak vanwaar die saak tot gister uitgestel is.

Cronjé het aangedui dat hy nie vir borgtog gaan aansoek doen nie. Die seun se ma het egter om borgtog aansoek gedoen.

Die staat het aangedui dat hy Domingo se borgtogaansoek gaan teengestaan omdat sy, soos Cronjé, van moord met ‘n gemene doel, ‘n skedule ses oortreding, beskuldig word.

Domingo se verklaring is deur haar regsverteenwoordiger van Legal Aid SA op rekord ingelees.

In die verklaring sê Domingo sy is werkloos. Sy het ook twee ander minderjarige kinders, ‘n dogter (7) en ‘n seun (5), wat albei tans by hulle ouma bly.

Volgens haar het sy geen vorige veroordelings of hangende sake teen haar nie en het aangedui dat sy onskuldig gaan pleit op die aanklagte teen haar. Sy het beloof om aan al die hof se behoeftes te voldoen gedurende die verhoor.

Weens ‘n gebrek aan tyd vir die staat om die borgtogaansoek teen te staan, is die saak uitgestel tot Vrydag 23 Junie.

Albei beskuldigdes bly in aanhouding.

 

Read original story on www.georgeherald.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button