‘Groot gat’ in Brakpan-Noord eis nog ’n slagoffer

Chanell Williams (45) het aan haar beserings beswyk nadat sy by 'n yslike gat – wat weens mynbedrywighede gevorm het – afgeval het.

‘n Diep gruisgat in Brakpan-Noord wat onder inwoners van die dorp bekend staan as ‘die groot gat’ het onlangs nóg ’n slagoffer geëis.

Chanell Williams (45) van Brenthurst het verlede Woensdagaand aan haar beserings beswyk nadat sy die vorige Sondag in die namiddag in dié gat afgeval het.

Sy word vandag in Boksburg begrawe.

Volgens haar dogter, Chané (25), was haar ma saam met ’n groepie mense by die gat, toe die grond waarop sy gestaan het meegegee het.

Die massiewe gat, op plekke meer as 70m diep, het ontstaan as gevolg van mynbedrywighede wat in die verlede daar plaasgevind het.

Alhoewel daar pogings aangewend is om dit te beveilig en die publiek weg te hou van ysingwekkende afgronde is daar tog plekke waar ‘n persoon tot teen die rand van die gat kan beweeg.

Dit is ook gedeeltelik met water gevul. Die styl kante maak dit bykans onmoontlik vir iemand wat daar afval om te keer of op ’n manier hul val te stuit.

Chanell Williams (middel) en haar twee dogters, Chané en Chanté.

“Ek is nie heeltemal seker waarom my ma-hulle by die gat was nie. Soos ek verneem het die grond waarop sy gestaan het meegegee, wat veroorsaak het dat sy na onder geval het,” het Chané gesê.

Volgens haar was haar broer, Johan (23), en ’n vriend ook daar en kon hulle die erg beseerde Chanelle bereik nadat sy geval het.

“Daar was op dié stadium beurtkrag in die omgewing en dit was ‘n gesukkel om ’n ambulans te ontbied weens die feit dat die sein swak was,” het Chané verduidelik.

Chanell is uiteindelik in ’n bedenklike toestand na die Verre Oos-Randse Hospitaal vervoer.

“Soos ek verstaan, het my ma met haar gesig na onder, op klippe te lande gekom.”

Volgens Chané was haar ma se rug, pelvis en regter enkel gebreek en daar was ’n oop wond aan haar kop.

“Sy het ook bloeding op die brein gehad en het nooit haar bewussyn na die ongeluk herwin nie,” het Chané gesê.

Sy is verlede Woensdagaand ongeveer 20:45 in die hospitaal oorlede. Sy laat nog ’n dogter, Chanté (18), na.

“My ma was ’n goeie mens wat daarvan gehou het om beeldjies en sagte speelgoed te versamel. Mense kan omdraai en vinger wys en sê dat hulle nie by die gat moes wees nie, maar dit was ’n ongeluk. Dit het gebeur en nou moet ons berusting vind.”

Ander insident

Hierdie voorval is die tweede tragedie wat hom vanjaar by die gat afspeel.

Die Brakpan Herald het in April berig hoe ’n man by die gat gesterf het, toe hy gepoog het om ’n tiener wat geval en gegly het, te hulp te snel.

Beide het tot onder in die water geval.

Johan Viviers (40), of ‘Apie’ soos hy bekend was, is op die toneel oorlede en die tiener het, ná ’n operasie aan haar skouer herstel.

Die Brakpan SAPD het die jongste voorval bevestig en ‘n geregtelike doodsondersoek sal sy gang gaan.

Read original story on brakpanherald.co.za

Back to top button