Hoof van Pretoria Girls High kap terug ná besluit oor appèl

Philippa Erasmus beskou die LUR vir onderwys se nuutste besluit oor haar appèl as ‘absurd’ en weier om dit te aanvaar.

Phillipa Erasmus, die skoolhoof van Pretoria Girls High, voel dat die besluit wat verlede week deur die LUR vir onderwys bekend gemaak is rondom haar appèl van klagtes teen haar, ‘absurd is’ en sy weier om die besluit te aanvaar.

Dems Nel, die regshoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het aan Pretoria Rekord gesê dat die unie ook nie bereid is om hierdie saak te laat vaar nie.

“Die unie beoog om die saak eersdaags na die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwyssektor te verwys om die skuldigbevinding en sanksie verder aan te veg,” sê Nel.

Die bevinding lui dat Erasmus se skorsing sonder salaris van drie maande na een maand versag is tesame met ’n skriftelike finale waarskuwing.

Sy is aanvanklik op twee klagtes skuldig bevind. Eerstens, het sy nie die skool se beheerliggaam voldoende bygestaan tydens die maak van ’n aanstelling nie. Tweedens, omdat sy toegelaat het dat haar eggenoot vrywilliglik en sonder betaling die skool se tuine onderhou het en hiervoor die skool se voertuig gebruik het.

Op die eerste klagte rondom die aanstelling is daar nou wel deur die owerhede bevind dat die voorsittende beampte nie al die getuienis rondom die aanstelling oorweeg het nie en dat die regte prosedures vir die aanstelling wel gevolg is.

Oor die vrywillige tuinmaakklag het die LUR besluit dat as rekenkundige beampte van die skool, het Erasmus wel die plig om toe te sien dat die gebruik van hulpbronne die nodige toestemming in plek moet hê. Haar skuldigbevinding aan hierdie klag is deur die LUR herbevestig.

Die LUR-besluit is geneem en bekend gemaak nadat die Arbeidshof in Johannesburg op 9 September ’n bevel uitgereik het wat beveel dat die Departement van Onderwys Erasmus se grief binne ’n maand afgehandel moet word.

Erasmus het ’n grief ingedien oor die wyse waarop sy deur die departementele amptenare hanteer is voor en tydens die ondersoek. Hierdie hofbevel het nie oor die appèl gehandel wat die SAOU namens Erasmus ingedien het nie, maar wel oor die langdurige versuim rondom die bekendmaking van besluite deur die departement.

Die mees onlangse besluit volg op ’n lang en omstrede dissiplinêre proses wat Erasmus al maande lank in ’n omstrede posisie laat verkeer.

Die saak het alreeds aandag getrek nadat Erasmus verlede jaar betrokke was by ondersoeke na bewerings van rassisme aan Pretoria Girls High.

Alhoewel hierdie ondersoeke slegs gedeeltelik in die openbaar verskyn het, is Erasmus nooit daarvan aangekla dat sy die skool se gedragskode oortree het nie.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button