Huisarres vir Wes-Kaapse man wat saamleefmaat aanrand
'n Man wie sy saamleefmaat van 17 jaar neergegooi en haar met sy vuiste geslaan het, het 'n opgeskorte vonnis ontvang.
‘n 34-jarige man van Nelsrivier, De Rust, in die Wes-Kaap, wie sy saamleefmaat op die grond neergegooi en met sy vuiste geslaan het, is gevonnis.
Oudtshoorn Courant berig die man, wie al vir 17 jaar in ‘n verhouding met die vrou was, is in die Oudtshoorn-streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Gerrit Plaatjies het skuldig gepleit. Volgens hom het hy na werk huis toe gekom en gevind dat die huis nie aan die kant was nie en sy saamleefmaat nie tuis was nie.
Sy was dronk toe hy tuiskom en dit het hom baie kwaad gemaak, maar hy is ‘innig jammer’ oor wat hy gedoen het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê mans wat hulle hande vir vroue oplig is lafhartig.
Hy is ook nie so seker of dit wel die eerste keer is dat Plaatjies sy saamleefmaat aangerand het soos wat in die hof gesê word nie.
“Vroue kom met allerhande stories na die hof net om die man wat hulle aanrand buite die tronk te hou.”
Plaatjies is ses jaar tronkstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en drie jaar korrektiewe toesig wat behels 24 uur per dag onder huisarres, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com