Inligting gesoek ná geliefde kerkman se moord in Parys
'n Gemeentelid het 'n 72-jarige man gaan soek toe dié nie by die kerk opdaag nie. Hy is toe met sy hande en voete vasgebind in sy huis gevind.
Die dood van Kenny Browne (72), wie Sondagoggend dood in sy huis gekry is, het die gemeenskap van Parys in die Vrystaat in skok.
“Hy het nie verdien om so te sterf nie. Hy het ‘n hart so groot soos die wêreld gehad, en was ‘n kind van die Here deur en deur. Ons gaan hom verskriklik baie mis by die kerk.” Só het Cathy du Plessis, hulpleraar by die Methodiste Kerk in die dorp, gesê.
Plaaslike polisiewoordvoerder Kaptein Lorraine Earl het die voorval bevestig, en gesê dat Kenny om ongeveer 09:45 in sy huis in Fochstraat op die kombuisvloer gekry is met sy hande en voete vasgebind. Hy was reeds dood toe hy gekry is.
Kenny was nooit getroud nie en het alleen gewoon. Hy is in Parys gebore en het sy lewe lank daar gewoon.
Oor die jare was hy besonder geliefd in die gemeenskap, veral by die Methodiste kerk waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n leke-prediker. “Die Here en die kerk was sy lewe.”
Onraad vermoed
Een van die kerk se gemeentelede, Margi Farre, het hom in sy huis gekry nadat sy onraad vermoed het toe hy nie soos gewoonlik Sondagoggend vroeg by die kerk was om te help met voorbereidings vir die erediens nie. Hy het ook nie sy foon geantwoord nie. Dit was sy gewoonte om altyd te laat weet as hy nie kon kom nie, of laat sou wees.
Donderdag het hy nog aan haar gesê dat hy haar Sondag by die kerk sou sien.
Farre was veral onrustig omdat hy die vorige week nie gesond was nie. Die agterdeur was oop toe sy by die huis kom. Daar was ook nie tekens van geforseerde toegang nie, het Earle gesê.
Dit is intussen bevestig dat sy selfoon, beursie, ‘n gasbottel en skootrekenaar onder meer vermis word.
Kenny is Saterdag nog in Checkers gesien toe hy gaan kruideniersware koop het, het inwoners gesê met wie Parys Gazette gepraat het.
Vriendelik en geliefd
Baie Parysenaars sal sy vriendelike en hulpvaardige diens onthou in die jare wat hy vir Mica gewerk het. Vroeër jare was hy ook in die meubelbedryf werksaam.
Kenny was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom na sy aftrede veral toegespits op die kerk se werksaamhede.
Omdat daar baie bejaarde lidmate in die gemeente is, het hy hom oor hulle ontferm, het Du Plessis gesê. Hy het oral gehelp waar hy kon, en bejaardes van die gemeente wat nie meer kon bestuur nie dikwels geneem waar hulle moes wees.
Farre het vertel dat hy op ‘n dag toe hulle saamgery het gesê het dat as die Here hom môre sou kom haal, hy gereed is. Sy lewe was ‘n getuienis hiervan.
“Iemand wat gelewe het vir sy geloof, ‘n grapjas, ‘n omgeemens. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. As iets gebreek het of gedoen moes word, was hy daar om te help.”
Sy ongelooflike kennis van die dorp en sy mense het jou altyd opgeval.
Vir sy ‘kerkfamilie’ laat sy dood ‘n oneindige groot leemte en sal sy opregte vriendskap baie gemis word.
Daar nog geen arrestasie vir die moord gemaak nie, en Earle het gevra dat enigeen met inligting oor die voorval vir Adjudant-Offisier Jaco Venter by 082 554 3041, Kaptein Bruwer by 082 466 8094, of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 sal skakel. Inligting kan ook anoniem deurgegee word op die MySAPS-toepassing.
Read original story on www.citizen.co.za