Kaalvoet en in nagklere: Middelburg-raadslid jaag vermeende watermeterdief
Saam met haar twee tuinwerkers en met kabelbinders in die hand is ’n Mpumalanga-vrou blitsig agter ’n verdagte aan.
Middelburg in Mpumalanga sukkel erg met watermeterdiewe wat in een oggend sommer drie tot vier meters steel, wat inwoners dan vir ure sonder water laat.
“Ek het net besluit vandag gaan my mense nie sonder water wees nie, ek gaan die verdagte vang,” vertel raadslid Elsie Vermooten aan Middelburg Observer.
Inligting is ontvang van ’n man wat op die hoek van Leipoldt- en Totiusstraat besig was om met ’n watermeter te peuter.
Vermooten, ’n oudskoonheidskoningin, het sonder om twee keer te dink vir haar twee tuinwerkers geskree: “Spring in die kar!”
Soos ’n ware baasspeurder het sy ook onthou om kabelbinders te gryp indien hulle ’n burgerlike inhegtenisneming sou moes uitvoer.
“Ek het stadig nader gery en toe gejaag om hom tussen bome vas te druk,” sê sy.
Polisie neem verklarings af
Juanita Groenewald van die Gemeenskapspolisiëringsforum en die SAPD was blitsig op die toneel.
Die polisie is nog besig met verklarings en moet ook nog Vermooten se weergawe afneem.
Ooggetuies wou nie hulle name verstrek nie uit vrees vir vergelding.
Intussen het die arrestasie soos ’n veldbrand onder Gholfsig- en Clubville-inwoners versprei.
Een van die inwoners sê hy wil net dankie sê dat sy so dapper was om op ’n Saterdagoggend in haar eie tyd – kaalvoet en in haar pajamas – ’n vermeende dief te vang en vir die polisie te wag.
Koperdiefstal vermoed
Vermooten sê die koper uit die gesteelde meters word vermoedelik afgebrand in ’n veld naby aan waar die man aangekeer is.
Arthur Hill van die Dagpatrolliegroep meen ook die brand waarheen hulle verlede week uitgeroep is, is gestig deur mense wat metaal in die hande wou kry.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za