Middelburg raadslid kaalvoet en in nagklere agter vermeende dief aan
Ná ’n wenk oor ’n man wat met ’n watermeter peuter, het raadslid Elsie Vermooten en twee tuinwerkers hom vasgekeer.
Middelburg sukkel erg met watermeterdiewe wat in een oggend sommer drie tot vier meters steel, wat inwoners dan vir ure sonder water laat.
“Ek het net besluit vandag gaan my mense nie sonder water wees nie, ek gaan die verdagte vang,” vertel Vermooten, terwyl die polisie nog besig is met hulle ondersoek.
Inligting is ontvang van ’n man wat op die hoek van Leipoldt- en Totiusstraat besig was om met ’֜n watermeter te peuter.
Vermooten, ’n oud-skoonheidskoningin, het sonder om twee keer te dink vir haar twee tuinwerkers geskree: “Spring in die kar!”
Soos ‘n ware baasspeurder het sy ook onthou om kabelbinders te gryp indien hulle ’n burgerlike arrestasie sou moes uitvoer.
“Ek het stadig nader gery en toe gejaag om hom tussen bome vas te druk.”
Juanita Groenewald van die Gemeenskapspolisiëringsforum en die Suid-Afrikaanse Polisie was blitsig op die toneel.
Die polisie is tans nog besig met verklarings en moet ook nog raadslid Vermooten se weergawe afneem.
Die ooggetuies wou nie hulle name verstrek nie uit vrees vir vergelding.
Volgens Vermooten is die man ’n “ou kalant”.
Intussen het die arrestasie soos ’n veldbrand onder Gholfsig- en Clubville-inwoners versprei.
Een van die inwoners sê hy wil net dankie sê dat sy so dapper was om op ’n Saterdagoggend in haar eie tyd, vol woema en pajamas, kaalvoet ’n vermeende dief te vang en dan vir die polisie te wag.
Vermooten sê die koper word vermoedelik afgebrand in ’n veld naby aan waar die man aangekeer is.
Arthur Hill van die Dagpatrolliegroep meen ook die brand waarheen hulle verlede week uitgeroep is, is gestig deur mense wat metaal in die hande wou kry.
