Kinderpornografie: 2 aparte sake in Wes-Kaapse howe

'n Klopjag word tans in die provinsie uitgevoer om die wie skuldig is aan seksuele misdrywe aan die pen te laat ry.

Twee inwoners van Mosselbaai sal eersdaags weer in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van kinderpornografie.

Die inhegtenisname van ‘n 25-jarige man van Da Nova het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur nadat hy verlede Vrydag – as deel van ‘n internasionale ondersoek in die Wes-Kaap na vervaardigers, verbruikers en verspreiders van kinderpornografie – by sy woning vasgetrek is.

Dit volg op deeglike navorsing en speurwerk in ‘n gesamentlike klopjag deur die polisie se eenheid vir reeks- en elektroniese misdaad en die Amerikaanse departement van binnelandse sake (Homeland Security Investigations van die Amerikaanse Ambassade).

Polisiebeamptes verbonde aan die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, onder leiding van Kaptein Franco Bestbier, het die man by sy woning gaan haal en hom na die Mosselbaai-aanhoudingselle geneem.

Die verdagte het Maandag sy eerste hofverskyning in die landdroshof gemaak, en staan tereg op 44 aanklagte van die besit van kinderpornografie.

Verskeie toestelle wat in sy besit gevind is, is op beslag gelê en die ondersoek duur voort.

Daar sal dus na verwagting meer aanklagte by die klagstaat gevoeg word. Die verdagte bly in aanhouding en sal op 23 Februarie formeel om borgtog aansoek doen.

Intussen sal ‘n 45-jarige man van Bothastrand, Groot-Brakrivier, weer op 12 Maart in die dorp se landdroshof verskyn nadat hy in Mei verlede jaar by ‘n spogwoning waar hy saam met sy bejaarde ma woon, in hegtenis geneem is.

Ondersoekbeamptes het op eksplisiete kinderpornografie afgekom, wat hy op sy selfoon gestoor het.

Die verdagte is destyds op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy staar verskeie aanklagte van die besit van kinderpornografie in die gesig. Die verdagtes se identiteite mag nie bekend gemaak word totdat hulle gepleit het nie.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button