Kleuterskoolhoof koelbloedig vermoor tydens motorkaping in Vereeniging
Franciska Mogotloane is glo deur twee gewapende mans oorval toe sy haar kar uit die motorhuis getrek het.
Die hoof van ‘n kleuterskool en voorskoolsentrum in Sonlandpark, Vereeniging, is vanoggend by haar woning in Waterbergstraat aan die rand van Sonlandpark koelbloedig doodsgeskiet tydens ‘n motorkaping.
Die oorledene, 51-jarige Franciska Mogotloane, woon op die perseel saam met haar 10-jarige seun en 19-jarige dogter.
Sy bedryf ook die Little Star Nursery & Pre-School-sentrum van haar huis af.
Sy sou volgens haar ouer broer, Thabo Motaung, haar 10-jarige seun by die skool gaan aflaai en vir dialisebehandeling gaan toe twee gewapende mans haar oorval het terwyl sy besig was om haar voertuig uit die motorhuis te trek.
Volgens omstanders het hulle twee tot drie skote kort na mekaar gehoor. Nog ‘n skoot is blykbaar later afgevuur.
Die twee verdagtes het in haar rooi Mahindra TUV 300 met registrasienommer HT 56 RG GP op die vlug geslaan. Haar selfoon ter waarde van R28 000 en beursie was in die voertuig toe dit gesteel is.
Die Vereeniging-polisie was vandag op die toneel en Vaalweekblad verstaan ‘n moorddosier is geopen en die saak word ondersoek.
Kaptein Fikile Funda, ‘n woordvoerder vir die polisie in Vereeniging, het die voorval bevestig en sê: “Daar word beweer dat die oorledene op pad was om haar huis te verlaat en dat sy na die morothuis is om haar voertuig aan te skakel.
“Terwyl sy in die motorhuis was het twee mans die deur oopgemaak en drie skote afgevuur.
“Die oorledene se dogter sê sy het gesien hoe een van die mans die voertuig uit die motorhuis uit trek terwyl die ander een die oorledene nog ‘n keer geskiet het.”
Die distriksbevelvoerder, Generaal Zodwa Molefe, het die voorval ten sterkste veroordeel.
“Dit is barbaars om ‘n vrou op hierdie manier dood te maak terwyl ons die Maand van Liefde vier,” sê Molefe.
Read original story on vaalweekblad.com