Kom lag die probleme weg by Innibos
Die fees kan dalk nie uitdagings by die kragverskaffer oplos, of die petrolprys beïnvloed nie – maar dit kan sorg dat jy lekker lag!
Komedie vier vanjaar hoogty by die Innibos Kunstefees en is net die manier om die gemoedere weer bietjie te lig.
Innibos word van 29 Junie tot 2 Julie in Mbombela gehou.
Lizz Meiring bring ’n vernuwende komedie – weliswaar met ’n titsel tragiek ingemeng – met Van die rak af. Dit is gebaseer op The Human Library, ’n wêreldwye konsep wat ʼn paar jaar gelede in Skandinawië ontstaan het.
Die konsep is op humanitêre beginsels gebaseer – met die doel om andere beter te verstaan. Die praktiese toepassing is eenvoudig – in plaas van ʼn boek uitneem, neem jy ʼn mens uit. Die persoon vertel jou as toehoorder sy of haar storie, eerlik en kaalvuis.
Lizz bring talle karakters ‘van die rak af’; sommige is werklike mense, ander histories, fiktief of mitologies. Die trant is van komies tot tragies, en soms ietwat satiries. Elkeen van dié karakters verbeeld en vertel hul unieke storie.
Verfrissend is die interaktiewe element in die verhoogstuk. Voor die aanvang van die vertoning ontvang die gehoor ʼn stembriefie met kriptiese leidrade. Dan kies die gehoor self watter van hierdie karakters hulle wil ‘uitneem’ vir dié spesifieke opvoering. Elke vertoning is dus eenmalig en eiesoortig en ’n mens sal dit dalk meer as een keer wil beleef.
Laerskool Noord het vol sale getrek tydens die Woordfees en KKNK, en die Laeveldse feesgangers kan hulle regskuif vir ’n guitige kyk na wat alles agter die swartbordgordyn gebeur.
Dinge by ’n laerskool is nie altyd pure onskuld en cute kindertekeninge nie. Veral nie met netbaljuffrou, Zelda de Wet (Margit Meyer-Rödenbeck), se vreeslose fluitjie nie. Gooi daarby Bets du Preez (Marion Holm) se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans, en die sorglose Marietjie (Ilne Fourie) wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper met haar glitter stickers terwyl almal in spanning wag om te hoor wie as die nuwe skoolhoof aangestel word.
Maryke Roberts skryf in ’n resensie op Litnet: “Ek kan nie sê wie van die drie juffrouens my die lekkerste laat lag het nie. Wat wel seker is, is dat ek hierdie stuk nog ’n keer sal kan gaan kyk, want dis die lekkerste lag-en-ontspan-uur wat ek in ’n lang tyd ervaar het.”
Innibos bied ’n dubbeldosis van skrywer Rudie van Rensburg se korrelkop Hans aan en met twee superster-akteurs wat lyf gee aan die nou reeds geliefde Hans wat rebelleer teen die ouderdom.
In Hans steek die Rubicon oor, met Charlie Bouguenon, is Hans ’n meester om konsternasie te skep in sy verset om gedweë oud te word én teen ’n drakoniese matrone. Daar is van daggakoekies en boeremafias tot ontkleedansers in sy wraak omdat sy kinders hom in die ouetehuis gesit het toe hulle na die buiteland verkas. Charlie as Hans is kwasterig en opstokerig en g’n ou man wat sonder handskoene aangepak moet word nie.
Op sy beurt is Hans, wat gedramatiseerd voorgelees word deur Tobie Cronjé, in Hans gee Herklaas horings ver van oud en koud in ’n safaripak. Wanneer sy vriend Herklaas se eiendom in die Overstrand in die visier kom van die ryk skobbejak Grond Graaffwater, neem Hans die sake in eie hande. En daar is onvermydelike gevolge …
Dit is asof ’n mens vir Hans uit die bladsye sien opstaan wanneer Tobie voorlees en talle lagbuie is gewaarborg.
Vertroude teatergangers weet reeds die tweemanskap Dana Snyman (skrywer) en Frank Opperman (akteur) is ’n gedugte span wat humor, nostalgie, sosiale kommentaar en dies meer met groot sukses bymekaarklits. Dit is ’n resep wat weer eens werk in die debuutproduksie Reünie.
Die meeste mense was al by ’n skoolreünie, en soontoe gegaan met óf meer as ’n tikkie behoedsaamheid, óf met ongebreidelde entoesiasme om almal te wys wat elk in die lewe bereik het. In Reünie is dit 40 jaar later. En almal dalk toe nie so ‘voorwaarts’ soos die skoolleuse hulle destyds wou laat glo nie.
In Magda Louw is aktrise Desire Gardner die karakter wat haarself in haar herfsjare op nasionale televisie bevind. Skielik is sy nie net meer die tannie in die straat nie, maar ook die tannie in mense se sitkamers wat nie altyd ’n wag voor die mond het wanneer die mikrofoon in die hand is nie.
Wat sy gaan sy kwytraak sal die gehoor en haarself verras, want dit is nie slegs oor sosiale media, gewig en plooie nie.
Die skreeusnaakse klug, My Vrou se Man se Vrou, is terug op die planke. Die oorspronklike stuk, Run for your Wife, hou die rekord vir die langs-lopende klug op Londen se Wes-einde en het ook rekords in Suid-Afrika laat spat.
In die stuk is daar een man wat sy bestaan maak as taxibestuurder, sy twee vroue wat nie van mekaar weet nie, en ’n verkeerde adres… gooi daarby nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne en teatergangers is in vir ’n wilde komedierit met hoë lag-oktaan.
Vir die volledige Innibos-program en skakels na die kaartjieverkope, gaan na innibos.co.za. Kaartjies is te koop by Computicket, en ook by die Innibos-kantoor op die hoek van De Villiers- en Anneckestraat by Sonpark-sentrum in Mbombela.