Man agter tralies vir beweerde moord op plaas in Delmas-omgewing

'n Man is doodgeskiet en sy lyk in 'n sojaboonland gevind, terwyl 'n vrou wat saam met hom was, verskeie beserings opgedoen het.

Die sekuriteitshoof van ’n bekende boerdery-groep in die Argent-omgewing van Delmas is Vrydag in hegtenis geneem vir die beweerde moord op ’n man en poging tot moord op ’n vrou.

Die polisie op Delmas het ’n klagte ontvang oor ’n skietery in die Argent-omgewing.

Paramedici was reeds op die toneel met die polisie se aankoms om 22:45.

’n Vrou met verskeie beserings is op die toneel gevind. Volgens die polisie het sy aangedui dat sy nie weet waar die man is wat saam met haar was nie.

By verdere ondersoek is die liggaam van ’n man sowat 200 meter vanaf die toneel in ’n sojaland gevind.

Die slagoffer het glo verskeie skietwonde gehad. Hy is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.

Die bakkie waarin die slagoffers na bewering gery het, het vyf koeëlgate in die voorruit gehad. Daar was nog ’n bakkie op die toneel. Die bakkie behoort glo aan die vermeende skieter.

’n Vuurwapen waarmee die skote na bewering afgevuur was, was glo ook by die verdagte gevind.

Die verdagte is hegtenis geneem en is tans in aanhouding. Hy sal na verwagting vandag in die Delmas-landdroshof verskyn op aanklag van moord en ’n verdere klag van poging tot moord.

Geen ander inligting was beskikbaar ten tyde van publikasie nie.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ally Cooper

Passionate storyteller with over 30 years’ experience as a journalist, editor, proofreader, content creator, social media manager and public relations and media liaison specialist.
Back to top button