Man draai by dood om na Kaapse kobra hom in Vredefort pik
Hy is na die Netcare Alberton trauma-noodeenheid gehaas nadat die slang hom aan sy pinkie gebyt het.
’n Gewapende reaksie beampte van Parys Sekuriteit is Sondagaand in die Mokwallo-woonbuurt buite Vredefort aan sy pinkie gebyt het toe hy op ‘n alarm gereageer het. Sy herstel is volgens sy dokter ‘n wonderwerk nadat sy lewe vir die eerste twee dae aan ‘n draadjie gehang het.
Jan du Toit se vrou, Annelle, vertel dat haar man nie ‘n foto van die slang wat hom gebyt het kon neem nie. Te danke aan ‘n goeie beskrywing en die simptome wat hy gehad het, is daar vasgestel dat dit ‘n Kaapse kobra is wat hom gebyt het.
Du Toit is nadat hy gebyt is, na die Parys-hospitaal geneem vanwaar hy met ‘n noodhelikopter na die Netcare Alberton trauma-noodeenheid vervoer en opgeneem is.

Hy is Woensdag van die ventilator afgehaal en na ‘n gewone saal geskuif en uiteindelik gister uit die hospitaal ontslaan.
Hoewel hy nog gou moeg raak, is daar geen skade aan sy organe nie.
“Dit gaan bo verwagting goed met hom. Hy sal hom vir ‘n ruk nog stil moet gedra, maar na alles wat hy deur is, is ons dankbaar vir nooddienste wat so vinnig gereageer het,“ sê Annelle.
Sy vertel dat haar broer Charl Pretorius, self ook ‘n paramedikus van eMalahleni, haar ook baie ondersteun het.
WeCare se Wynand Nel wat gereeld help met slange wat mense in hul erwe en huise kry, sê dat slange die afgelope tyd redelik stil in die Parys-omgewing was.
Volgens slangkenner, Arno Naudé, eienaar van Snake Bite Assist in Pretoria, is daar in die afgelope jaar net sowat vyf gevalle van slangbyte in die Vrystaat gerapporteer.
Rinkhalse, Kaapse kobras en pofadders was vir die slangbyte in die Vrystaat verantwoordelik.
Naudé sê die Kaapse kobra is van die giftigste slange in Afrika en loop kop-aan kop met die mamba as dit kom by watter spesie vir die meeste sterftes verantwoordelik is.
Byt of pik ‘n slang?
Sekere slange soos mambas en adders pik, maar ander slange soos kobras, boomslange en luislange het ‘n bytaksie, verduidelik Naudé
Hy sê slange wat nie giftig is nie, is dikwels meer geneig om ‘n bytaksie te hê.
Wat om te doen in geval van ‘n slangbyt:
- Naudé se raad is om wanneer ‘n slang jou sou byt of pik ‘n foto, ‘n foto so na as moontlik te probeer neem, mits dit veilig is, al is dit ook net van ‘n klein gedeelte van die slang se lyf. Moet egter nie kanse waag om die slang te probeer doodmaak of te vang nie. ‘n Behoorlike beskrywing van die slang kan ook noodiens- en hospitaalpersoneel help.
- Ry dadelik met die pasiënt na die naaste hospitaal en vra dat nooddienste jou langs die pad kry. Maak seker hulle weet watter pad jy gaan ry en sit jou noodligte aan sodat hulle jou maklik sien.
- Moet onder geen omstandighede die plek waar die pasiënt gebyt/gepik is probeer afbind met ‘n verband nie.
- Hou die ledemaat waar die bytplek is, harthoogte.
- Hou die pasiënt kalm
- Moet onder geen omstandighede die pasiënt iets gee om te drink nie.
Wat om te doen wanneer jy ‘n slang in jou erf of huis sou kry
Dit is altyd die beste om eerder iemand te kry wat slange ken om jou te help om die slang te vang, maar sou dit nie moontlik wees nie, is ‘n besem die beste om die slang in ‘n boks of harde plastiekhouer soos ‘n asblik in te stoot. Die houer moet kan toemaak. Moenie die houer in die son laat nie en laat die slang so gou moontlik in die veld vry.
Die bruin huisslang word byvoorbeeld dikwels in erwe en huise opgemerk, maar is gewoonlik skadeloos en kan uitgeken word aan sy bruin kleur en twee wit strepe van sy neus, verby sy oë tot aan die agterkant van sy kop.
Noodnommers om te skakel
Poison Information Helpline – 086 155 5777
Snake Bite Assist (Arno Naudé) – 083 739 9303
Read original story on www.citizen.co.za