Man pas self noodhulp toe nadat been afgeruk is in Brakpan

Hy het probeer om sy eie lewe te red deur sy leer gordel om sy been te draai om die bloeding te stop.

’n Inwoner van Minnebron is oorlede nadat hy verlede Woensdag in ’n gru-ongeluk met sy motorfiets was waarin sy been afgeruk is.

Ten spyte van Wikus Kroukamp (42) se poging om self die bloeding te stop, en die mediese hulp wat hy daarna ontvang het, is hy later die aand oorlede.

Sy vrou Hester (44) het vertel van die benoude oomblikke wat sy beleef het toe haar man haar net na 16:00 gebel het en gesê het dat hy in ‘n ongeluk was en dat sy been af is.

“Ek was op pad van my werkplek na ons huis toe ek die oproep, wat my lewe verander het, gekry het,” vertel Hester.

Die ongeluk het by die drie-rigting stopstraat op die hoek van Jim Vinningstraat en Lowerweg plaasgevind.

Hester Kroukamp en haar dogter, Geraldine met die valhelm wat Wikus gedra het tydens die ongeluk.

 

“Ons woon daar naby en ek het ons dogter, Geraldine gebel om te gaan kyk wat aangaan. Sy het by Wikus gebly totdat mediese hulp opgedaag het.”

Die ongeluk het glo plaasgevind nadat Wikus, wat op sy motorfiets gery het, by die stopstraat stilgehou het en in die proses was om te draai.

Volgens inligting is hy van die kant af deur ‘n voertuig getref.

“Wikus het van die gimnasium afgekom en was net in ‘n kortbroek en T-hemp geklee,” sê Hester.

“Na die ongeluk kon hy nog daarin slaag om sy rugsak oop te maak en sy leer gordel van die denim wat hy die dag gedra het af te haal, en sy been af te bind in ‘n poging om die bloeding te stop.”

Hy is na die Thambo Memorial Hospitaal in Boksburg vervoer waar hy ongeveer 18:50 oorlede is.

Hester het die dag na sy dood blomme gaan sit op die plek waar die ongeluk plaasgevind het. Sy was erg ontnugter toe dit ‘n rukkie daarna gesteel is.

“Ek wil graag ‘n houtkruis op die plek gaan oprig, maar as mense kan blomme steel sal hulle seker ook niks daarvan dink om die kruis ook te steel vir vuurmaakhout nie,” sê ‘n hartseer Hester.

Volgens haar was Wikus ‘n gimnasium fanatikus wat dit geniet het om gereeld te oefen.

“Indien hy die ongeluk sou oorleef het sou dit vir hom bitter moeilik gewees het om sonder ‘n been oor die weg te kom,” sê sy.

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die drie-rigting kruising wat nie veilig is nie.

“Mense hou eenvoudig nie daar stil nie. Daar sal dringend moet gekyk word na oplossings in die vorm van spoedhobbels of iets wat motoriste sal dwing om stadiger te ry en te stop soos hulle moet.

“Ek en Wikus was mekaar se grootste vriende; ons het dieselfde belangstellings gehad en ek gaan hom bitter baie mis.”

Met tye van publikasie was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.

‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.

 

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button