Mediaman vra AfriForum se hulp ná ongelukstragedie
Videomateriaal wys na bewering dat ‘n bakkiebestuurder by verskeie kroeë gedrink het voor ‘n noodlottige botsing in Kaapstad.
Mediaman Chris Burgess het hom tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend ná sy stiefseun in Junie in ‘n motorongeluk in Kaapstad dood is.
David Golding (27) is op 16 Junie dood nadat sy voertuig in ‘n botsing met ‘n bakkie op Ou Kaapse Weg betrokke was.
Golding was glo op pad om iets te ete te kry nadat hy saam met vriende gekuier het toe die botsing plaasgevind het. Hy is op die toneel dood verklaar terwyl die ander bestuurder na ‘n hospitaal vervoer is en ‘n operasie ondergaan het.
In ‘n verklaring sê AfriForum dat daar videomateriaal en ooggetuies is wat volgens die organisasie bewys dat die bestuurder van die bakkie voor die ongeluk by verskeie kroeë en restaurante aangedoen en verskeie alkoholiese drankies gedrink het.
Adv. Gerrie Nel, hoof van die vervolgingseenheid, het lof uitgespreek vir die deeglike ondersoek wat tot dusver deur polisiebeamptes verbonde aan die Vishoek-polisiestasie gedoen is.
Hy het egter gesê dat dit wil voorkom of ondersoeke en vervolgings van strafbare mansslag-sake dikwels nie prioriteit geniet nie.
“Vertragings met die verkryging van relevante getuienis verleng nie net die ondersoek nie, maar skep ook die risiko dat ooggetuies se herinneringe vervaag. Dit lei dikwels daartoe dat sake van die rol geskrap word of glad nie vervolg word nie. Daarom het AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingetree om te verseker dat hierdie saak vervolg word,” sê Nel.
Burgess sê hy het die eenheid genader om seker te maak dat geregtigheid geskied. ““Nie net vir my seun, David, nie, maar ook vir enige ander onskuldige slagoffer wat moontlik dieselfde tragedie te beurt kan val as die een wat my familie getref het. Ek sou die smart waardeur ons gaan nie aan my grootste vyand toewens nie.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za