Middelburg-seun glo aangerand langs sportveld in Pretoria

'n Ma van 'n HTS Middelburg-leerder is hoogs ontsteld nadat haar seun Saterdagmiddag in 'n hospitaal opgeneem is ná 'n voorval by Hoërskool Eldoraigne.

‘n Hokkiespeler van HTS Middelburg moes hospitaalbehandeling kry nadat hy na bewering ernstig aangerand is en bewusteloos was ná ‘n wedstryd by die NWU finaal in Pretoria.

Die ma het gistermiddag ‘n brief aan Middelburg Observer gestuur en gemeld dat sy dit in al die nuusmedia wil publiseer.

Ouers se brief

Die brief lui as volg: “Mediaverklaring, voorval na skoolhokkiewedstryd (onder ondersoek).

Ek, die ouer van ’n minderjarige leerder, wil graag die volgende ernstige voorval onder die aandag van die media en publiek bring.

Op 18 April 2026 net ná 15:00 het ’n NWU hokkiefinaal plaasgevind teen Hoërskool Eldoraigne op hulle gronde.

Ná afloop van die wedstryd het ’n ernstige voorval plaasgevind waartydens my kind deur die leerders van die span van Eldoraigne Hoër fisies aangerand is.

Beeldmateriaal wat nie nou gepubliseer mag word nie, wys verder dat die seuns betrokke na ander seuns slaan en stamp, nadat my seun bewusteloos langs die veld lê.

Die voorval het na afloop van die spelomgewing plaasgevind en het tot ernstige beserings gelei.

My kind is daarna behandel by naaste hospitaal en ’n CT-skandering het bevestig dat daar breinswelling teenwoordig is. Hy is tans onder mediese toesig en herstelperiode is na raming tussen drie en ses weke, waartydens alle sportdeelname gestaak is.

As gevolg van hierdie besering kon my kind ook nie deelneem aan ’n vooraf betaalde NWU-tennistoer nie, wat verdere verlies aan sport- en ontwikkelingsgeleenthede veroorsaak het.

Hy ervaar tans ook beduidende emosionele en sielkundige impak as gevolg van die voorval en gevolge van besering.

’n Strafsaak is reeds by die Suid-Afrikaanse Polisiediens geopen en die aangeleentheid word tans ondersoek.

Ek wil ook graag dankie sê aan HTS Middelburg se personeel en coaches vir hulle onmiddellike bystand.

Ek wil dit duidelik stel dat:

Hierdie verklaring gebaseer is op my persoonlike kennis en beskikbare mediese inligting.
Die saak nog ondersoek moet word.

Geen individue by naam geïdentifiseer word nie omdat dit minderjariges betref.

En ook [dat ek] beeldmateriaal in my besit het wat kort ná afloop verwyder is deur ander onbekende partye vanaf SuperSport Schools se webtuiste.

Die doel van hierdie verklaring is nie om skuld toe te ken nie, maar om bewustheid te skep oor die erns van geweld tussen skoolleerders en die potensiële langtermyn gevolge daarvan.

Ek versoek dat alle betrokke partye asook die skole betrokke die saak met erns, verantwoordelikheid en die nodige sorg sal hanteer.

Vriendelike groete
Die ouers van beseerde kind.”

Skole neem kennis

Die hoof van Hoërskool Eldoraigne, Retief Smith, het op die koerant se navraag laat gistermiddag gesê dat in Kemptonpark was by die NWU wedstryde aan daardie kant en eers laat eergister van die voorval by sy skool gehoor het. Hy meld dat hy dit daarna dadelik aan die dissiplinehoof van die skool oorgegee het, maar dat hy nie besonderhede het oor die gebeure nie.

“Ek weet daar was ‘n bakleiery, dis ‘n feit. Daar is egter net een manier; dit sal ondersoek word. Ons kry die inligting en doen die ondersoek. Ons moet volgens die dissiplinêre kode optree. Dit gebeur nie sommer gou op ‘n Maandagoggend nie. Laat ons die ondersoek doen, dan sal ons as skool amptelik reageer.”

Malem van Heerden, die hoof van HTS Middelburg, het laat weet dat hy kennis dra van die voorval. “Ons hokkie-organiseerder en dissiplinehoof was onmiddellik ná die insident met my in kontak.

“Dit sal altyd sleg bly dat iets soos hierdie op ‘n sportveld gebeur. Die insident sal deur ons as skool hanteer word met die nodige erns. Ons vertrou ook dat die NWU-toernooi se bestuur dit van hulle kant af sal hanteer.”


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button