Miljoene spandeer maar min gebou: Man verskyn in Mosselbaai
'n Man wat hom glo as ‘n boukontakteur of ontwikkelaar voorgestel het, en miljoene betaal is, het in die hof verskyn.
‘n 58-jarige man van Mosselbaai het vandag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn op bedrog aanklagte van meer as R3m.
Meer as 20 beweerde slagoffers het aanklagte teen die verdagte, Robert Pace, aanhangig gemaak.
Die aanklagte hou verband met voorvalle tussen 2018 en 2024 waartydens Pace hom ná bewering as ‘n boukontakteur of ontwikkelaar voorgestel het.
Polisiewoordvoerder sersant Chris Spies sê ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat Pace ‘n stuk grond vir ‘n behuisingsontwikkeling op Mosselbaai geoormerk het en dit op sosiale media geadverteer het.
Slagoffers het ‘n bedrag van nagenoeg R1.7m inbetaal om erwe op dié perseel te bekom. Daar is volgens Spies later vasgestel dat die eiendom in die naam van ‘n ander party geregistreer is en die bou van die wonings het nooit gerealiseer nie.
Verdere ondersoek na ‘n ander skema het ook aan die lig gebring dat Pace as ‘n gekwalifiseerde bouer opgetree het wat ooreenkomste met voornemende huiseienaars aangegaan het om huise op ‘n ander eiendom te bou.
Dié slagoffers het na bewering meer as R1.6m in Pace se rekening betaal.
Hoewel ‘n vorm van konstruksie op die terrein begin is, het Pace, na wat verneem word, kort daarna verdwyn sonder dat enige van die huise oorhandig is.
Altesaam 19 sake is by die polisie aangemeld.
Pace is gister by sy kantoor op Mosselbaai in hegtenis geneem.
Die saak is uitgestel tot 6 Augustus vir ‘n formele borgaansoek en hy bly in aanhouding.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com