Modimolle vrou in hof vir beroepsjagter-man se dood
Buiten vir moord word Chrisna van der Merwe ook van diefstal van R141 000 aangekla.
Die vrou van beroepsjagter Botes van der Merwe (46), wat daarvan beskuldig word dat sy haar man vermoor en haarself in die maag geskiet het, asook dat sy ‘n groot bedrag geld uit sy besigheidsrekining onttrek het, het vandeesweek weer in die hooggeregshof in Polokwane verskyn.
Chrisna van der Merwe (45) word daarvan aangekla dat sy haar man op 11 Desember 2018 in die badkamer van hul huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle doodgeskiet het.
Sy het onskuldig gepleit op die klagtes teen haar en het in ‘n pleitverduideliking gesê dat alhoewel sy geheueverlies oor die voorval het, dit moontlik is dat Botes haar eerste geskiet het en sy hom teruggeskiet het uit selfverdediging.
Daar is voorheen berig dat die egpaar saam met Botes se oudste dogter en een van haar vriendinne gekuier het. Hy en Chrisna is blykbaar laataand kamer toe, waarna skote afgevuur is.
Botes se dogter Celiné het hom in die badkamer met skietwonde aangetref. Hy is drie keer in die bors geskiet. Een van die skote het hom noodlottig in die hart getref.
Chrisna was in die slaapkamer langsaan met ’n maagwond. Sy is per helikopter na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion geneem vir ’n noodoperasie.

Die staat voer aan dat sy haarself in die maag geskiet het nadat sy haar man geskiet het.
Chrisna se diefstalklag het gevolg nadat R141 000 glo tien dae ná Botes se dood uit sy onderneming, Botes Hunting Safaris, se rekening onttrek is. Volgens Chrisna het sy dit aangewend om haar nodige lewenskostes te dek.
Polisiebeamptes wat die aand van die moord op die toneel was en sielkundiges van Thabamoopo Psigiatriese Hospitaal waar Chrisna vir evaluering was, het verlede week Maandag en Dinsdag getuig.
Sy is vir sielkundige waarneming opgeneem nadat sy beweer het dat sy niks van die aand toe haar man dood is, kan onthou nie.
Die polisiebeamptes het onder meer getuig oor hoe hulle die toneel gekry het, waar die vuurwapens en koeëldoppies gelê het en bloedmerke wat gevind is.
Volgens die ondersoekbeampte, AO. Ciska Kruger, sal die saak weer in Oktober voortgaan met die staat wat hul saak dan afsluit.
Van der Merwe word deur adv. Piet Pistorius verteenwoordig terwyl adv. Nkhetheni Munyai die staat verteenwoordig. Die saak word aangehoor deur waarnemende regter Karen Pillay.