Moord op 67-jarige vrou in Gauteng: Seun, medepligtiges vas
'n Verbyganger het 'n swart sak opgemerk, onraad vermoed en die polisie is na die toneel ontbied waar die vrou se liggaam gevind is.
Die polisie het bevestig dat die seun van die 67-jarige Charlotte Chrisine Fenn, wie se lyk 6 Februarie in ‘n veld naby Redan in Vereeniging gevind is, in hegtenis geneem is vir haar moord.
Twee medepligtiges, wat glo huurders van Fenn was, is ook in hegtenis geneem en sal na verwagting Woensdag saam met die seun in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en ontvoering.
Fenn, ‘n inwoner van Cora Bothastraat in Sonlandpark, is vroeg in Februarie deur haar kleinkinders as vermis aangemeld nadat sy spoorloos verdwyn het.
Fenn, wat ‘n bestaan maak deur tuindienste te lewer, is glo die laaste keer op 2 Februarie gesien toe sy in die R59-snelweg se rigting met haar wit Kia bakkie onderweg was.
Volgens Funda is haar uitgebrande bakkie later op ‘n plaas naby Sasolburg gevind.
Kringtelevisiebeeldmateriaal wat later nagegaan is wys hoe Fenn se voertuig deur ‘n Opel Kadet-voertuig op die R59-snelweg agtervolg word.
Die voertuig behoort glo aan ‘n man wat by Fenn huur. Die verdagte is in hegtenis geneem.
Fenn se liggaam is 6 Februarie by plotte in Redan gevind en volgens Funda het ‘n verbyganger ‘n swart sak naby McKay Estates en Redan opgemerk en onraad vermoed.
Die polisie is na die toneel ontbied waar hulle Fenn se liggaam aangetref het.
Sy is vermoedelik geskiet en het verskeie wonde aan haar kop gehad.
Later het die polisie ook Fenn se seun en ‘n ander huurder in hegtenis geneem.
Die polisie het in ‘n verklaring Vereeniging se stasiekommissaris, Brigadier Ndaba, die speurders, Vispol en sektorpolisiëring, alle eenhede in die Sedibeng-distrik, forensiese ondersoekers sowel as die beheeraanklaer bedank vir hulle bystand.
Gemeenskapspolisiëringsforums en lede van die gemeenskap wat bystand gebied het is ook bedank.
Read original story on vaalweekblad.com