NWU-rugbyspeler (20) se dood: Familie nie tevrede met antwoorde nie
Die familie van Vilano Saunders, wat sy nek tydens 'n rugbywedstryd gebreek het, is ontevrede met die Valke Rugbyunie se ondersoek.
Die wonde bly rou en trane rol steeds vrylik wanneer die familie van Vilano Saunders oor sy dood gesels.
Vaalweekblad berig dié lewenslustige jongman is op 5 Mei in die Sebokeng-hospitaal oorlede nadat hy op 3 Mei sy nek in ‘n o.21-kragmeting vir NWU Vaal teen Springs gebreek het.
Die Valke Rugbyunie, onder leiding van Ettienne de Lange (hoofuitvoerende beampte), en sy ondersoekspan – Alfred Ross (veldinspekteur), Danie Mathee (Adcock Ingram), Johnny van der Merwe (polisieverteenwoordiger van Kemptonpark) en Johan Nieuwenhuizen (Valke-administrateur) – het ’n ondersoek geloods en ’n verslag is in dié verband opgestel.
Volgens Hennie Venter, die woordvoerder van die Saunders-familie, is hy nie toegelaat om die terugvoervergadering by te woon nie. Vilano se ma, Lizelle, asook Caitlin en Marsha Venter, het wel die vergadering bygewoon en verklarings ná afloop van die vergadering afgelê.
‘Bevooroordeeld, onvolledig en soms oneerlik’
Die familie voel egter dat die vergadering grootliks daarop gemik was om die reputasie van die Valke Rugbyunie en NWU se afrigters te beskerm, eerder as om antwoorde oor Vilano se dood te verskaf.
Volgens Venter ervaar die familie die ondersoek as bevooroordeeld, onvolledig en soms oneerlik. Hulle voel dat Vilano se vrese, onervarenheid en die werklike omstandighede nie voldoende blootgelê is nie.
Hulle het die vergadering verlaat met ’n gevoel van frustrasie, pyn en die oortuiging dat Vilano se dood nie met die nodige respek hanteer is nie.
“Ek is nie kwaad nie. Ek is teleurgesteld en hartseer. Ons doel is om agter die kap van die byl te kom, sodat ’n mens kan voorkom dat ander families dit moet deurmaak wat ons deurgemaak het,” het Vilano se ma snikkend gesê.
“Hy (De Lange) is koud en het geen menslikheid nie. Ek betwyfel steeds of hy bevoegd is om die ondersoek te lei. Daar word gesê die verslag is aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gestuur, maar Saru kan dit nie bevestig nie. Hulle sê dis ’n uniesaak,” gee Venter te kenne.
Gemoedere loop hoog
Groot teenstrydighede het tydens die vergadering ontstaan oor Vilano se rugbygeskiedenis en sy voorbereidheid om op haker te speel — ’n posisie wat hy self as ’n bron van vrees beskryf het. NWU se afrigters het egter volgehou dat hy opgelei en gereed was. Gemoedere het glo ook tydens die vergadering opgevlam.
Die verslag wat Richard Louw, ‘n afrigter van Springs, ingedien het, is ook voorgelees, waartydens die afrigters van NWU Vaal glo hul oë gerol en gesug het. Volgens die Venters is daar beweer dat Louw oordryf en dat sy weergawe van gebeure nie betroubaar is nie.
Louw het voorheen op rekord gesê dat hy voor die kragmeting vir onbetwiste skrums gevra het, maar dat NWU se afrigters en die skeidsregter daarteen besluit het. Ter afsluiting het De Lange volgens die Venters beklemtoon dat daar geen nalatigheid was nie en dat NWU besig is om ’n persverklaring voor te berei.
Vilano se ma het ná die vergadering per e-pos versoek dat die Valke die notule van die vergadering moet verskaf.
De Lange het teruggeantwoord dat die vergadering, wat op 27 Augustus plaasgevind het, op ’n ‘sonder benadeling’-grondslag gehou is. Dit beteken dat dit van die rekord af was en nie as bewys in regsgedinge gebruik kan word nie. Om dié rede is geen notule geneem nie. Hy het verder beklemtoon dat dit ’n interne ondersoek was.
“Geen formele ondersoekverslag sal beskikbaar gestel word nie, behalwe aan enige wetstoepassingsgesag wat die omstandighede van Vilano se tragiese afsterwe ondersoek. Ons plaas op rekord dat U tydens die vergadering van 27 Augustus aangedui het dat ’n formele geregtelike doodsondersoekdossier deur die SAPD geopen is om die omstandighede van Vilano se tragiese afsterwe te ondersoek.
“Die Valke Rugbyunie is verbind daartoe om die SAPD se ondersoek te ondersteun en saam te werk. Daarom sal enige en alle huidige en/of verdere inligting slegs aan die aangestelde ondersoekbeampte beskikbaar gestel word, indien en wanneer dit as deel van die ondersoek versoek word,” lui die e-pos wat De Lange gestuur het.
Volgens Venter-hulle is hulle steeds besig met hulle eie ondersoek. Hulle het glo ook vandeesmaand vergaderings met hulle regspan, verteenwoordigers van Boksmart en Netcare nooddienste gehad.
Read original story on www.citizen.co.za