Oudtshoorn-kinders se aanranding: Borgtogaansoek duur voort
'n Egpaar en 'n ander man wat van die aanranding van drie kinders beskuldig word, sal vandag weer in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Die borgtogaansoek van die beskuldigdes wat in hegtenis geneem is ná die aanranding van drie kinders in Van der Rietstraat verlede maand, het gister in die Oudtshoorn-landdroshof voortgegaan.
Oudtshoorn Courant berig dat die aansoek reeds Maandag begin het met Konstabel Tazaan Hamman se getuienis. Die staat staan borgtog teen.
Gemeenskapsleier Leon Campher het gister getuig en ’n memorandum voorgelees waarin hy ook redes uiteengesit het waarom borgtog nie aan Gerda Tait en haar man, James, toegeken behoort te word nie. Die memorandum is vergesel van ’n petisielys wat deur inwoners onderteken is.
Lourens Swanepoel van Coetzee en Van der Bergh Prokureurs wat vir die beskuldigdes optree, het aangedui dat Campher die indruk skep dat hy die beskuldigdes reeds as skuldig beskou.
Campher het op sy beurt gevra of die verdediging die video van die voorval gesien het. Die hof het hom egter vermaan en opdrag gegee om die verdediging se vrae direk te beantwoord en slegs oor sy redes om borgtog teen te staan te getuig.
James is verlede Maandag in hegtenis geneem, kort nadat sy vrou, Gerda, en hul medebeskuldigde, Johann Scholtz, hul eerste hofverskyning gemaak het.
Die egpaar en Scholtz het vroeër die maand in die hof verskyn in verband met die voorval wat groot reaksie onder inwoners ontlok het.
Die vierde verdagte, Wayne Ellis, is verlede week in hegtenis geneem. Hy het reeds borgtog aansoek gedoen en is teen R5 000 vrygelaat.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com