Pa en seun van Mosselbaai skuldig aan moord
Bykans sewe jaar nadat Mzwuluthu Shelembe doodgesteek is, sal geregtigheid geskied wanneer sy moordenaars gevonnis word.

‘n Pa en sy seun van Kwanonqaba, Mosselbaai, is in die Oudtshoorn-streekhof aan moord skuldig bevind.
Lifa Mayixhale (60) en Neo Noqha (26) is daaraan skuldig bevind dat hulle gesamentlik opgetree het toe Mzwuluthu Shelembe op 9 Oktober 2016 in Mathezustraat met ‘n mes doodgesteek is.
Albei het onskuldig gepleit, maar hulle verweer is deur streeklanddros Sylvia Mandla verwerp.
Mandla het bevind dat die twee beskuldigdes met ‘n gemeenskaplike doel opgetree het.
Getuienis
Volgens getuienis voor die hof was Mayixhale die betrokke dag in ‘n woordewisseling met die beskuldigde waarna hy weggery en met ‘n mes teruggekeer het. Noxha het toe ook met ‘n mes op die toneel verskyn en die oorledene gesteek. ‘n Ooggetuie wat die skermutseling gesien het, kon nie aan die hof sê wie van die twee beskuldigdes die oorledene gesteek het nie. Noxha het getuig dat die oorledene ‘n mes gehad het, maar erken dat hy nie na hom gesteek het nie.
Die landdros het bevind dat die twee beskuldigdes die bedoeling gehad het om die oorledene dood te maak en met ‘n gemeenskaplike doel opgetree het. Albei was gewapen terwyl die oorledene nie enige wapen by hom gehad het nie. Die pa het vyf vorige veroordelings terwyl sy seun ‘n eerste oortreder is.
Vonnisverrigtinge is op versoek van die twee se regsverteenwoordiger vir proefbeampte- en korrektiewe verslae tot 26 September uitgestel.
Corné Pretorius is die aanklaer in die saak en die twee beskuldigdes se borgtog is tot dan verleng.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com