Peet Viljoen dalk oor ‘haatspraak’ vasgetrap

Nadat hy uit Amerika gedeporteer is, het die polisie 'n berugte prokureur op O.R. Tambo ingewag - en nuwe klagtes oor beweerde rassistiese uitlatings hang ook nou oor sy kop.

Die einde van die berugte oudprokureur en Real Housewives van Pretoria-ster se ellende is nog nie in sig nie.

Dit nadat Peet Viljoen se sosialemedia-uitlatings hom moontlik verder in die warm water kan laat beland. Bronne in die polisie het aangedui dat hy binnekort dalk ook van haatspraak aangekla gaan word.

Dit volg nadat Viljoen gisteraand (16 Junie) op die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park in hegtenis geneem is nadat hy uit Amerika in Suid-Afrika aangekom het.

’n Klagte van haatspraak is verlede jaar Junie by die Brackenham-polisiekantoor in Alberton-Suid aanhangig gemaak. Die waarnemende stasiebevelvoerder, kolonel Henry Meyer, het bevestig dat daar klagtes teen ’n Peet Viljoen gelê is. “Ek kan egter nie bevestig dat dit wel dié berugte Viljoen is nie.”

Die klagte spruit voort uit opmerkings wat Viljoen oor swart Suid-Afrikaners op sy sosialemediaprofiele gemaak het. Hy het onder andere aangevoer dat ‘daar geen twyfel in sy hart is dat hy ’n rassis is en swart mense haat nie.’ Hy het ook na swart mense as ‘dom’ verwys.

Bronne na aan die ondersoek het aan Caxton Network News gesê dat die polisie bloot op sy aankoms in die land gewag het om hom op dié klagte aan te kla.

‘n Bron sê, omdat Viljoen reeds in hegtenis is, het hulle nie ‘n lasbrief nodig om bykomende klagtes teen hom te lê nie.

Mel Viljoen, Peet se vrou, sê sy is nie bewus daarvan dat die polisie haar man op daardie klagtes ook wil aankla nie, en het die media na sy prokureur, André Steenkamp, verwys. Steenkamp het teen die tyd van publikasie nog nie op navrae gereageer nie.

Van Amerika se selle tot in Sunnyside

Viljoen is Maandag (15 Junie) uit Amerika gedeporteer nadat hy Vrydag (13 Junie) van die Amerikaanse agentskap vir immigrasie- en doeane-afdwinging (ICE) se California City-aanhoudingsprogram na ’n ander fasiliteit oorgeplaas is.

Sy vryheid was egter van korte duur nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisname in Suid-Afrika uitgereik is. Hy word tans in die Sunnyside-polisieselle in Pretoria aangehou en behoort more (18 Junie) in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria te verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal en korrupsie in verband met beweerde eiendomsbedrog wat in 2010 begin het.

Viljoen is in 2011 van die rol geskrap, maar het deurentyd volgehou dat hy onskuldig by die saak betrek is.

Die korrupte eiendomstransaksies

The Citizen het vroeër berig dat die bedrog na bewering verband hou met ’n skema om minstens 27 eiendomme van die Johannesburgse metro te kaap. Die eiendomme het aan die stad behoort en is deur die Johannesburg Property Company bestuur. Die grond het dele van die Norscot Koppies- en Kingfisher-natuurreservaat in Fourways in, asook grond in Bryanston langs die ou William Nicol-rylaan ingesluit.

Izak du Plessis, wat die nuuskanaal Nuuspod bedryf, het die saak deurlopend gevolg. Hy verduidelik dat die metro gewoonlik die eienaar van die titelaktes is.

“In hierdie skema is dokumente egter opgestel wat voorgee dat die stad die grond wettig aan ’n privaat maatskappy verkoop het. ’n Dopmaatskappy is as tussenstasie gebruik. Hierdie entiteit het geen werklike besigheid of geskiedenis gehad nie en was nie eens by Sars geregistreer nie. Op papier het dit soos ’n gewone transaksie gelyk, maar die stad het nooit werklik besluit om die grond te verkoop nie.”

Viljoen se praktyk het na bewering dié oordragte en die trustrekeninge hanteer. Daar word beweer dat van dié geld ook in sy trustrekening inbetaal is.

Luidens die oorspronklike klagstaat is meer as R10 miljoen aan Edwin Maringa oorbetaal en meer as R3 miljoen aan Wiets Nell, terwyl ongeveer R25 miljoen in Viljoen se rekening agtergebly het.

Maringa en Nell was onder die medebeskuldigdes wat destyds saam met Viljoen gearresteer is.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button