Plaasaanval: Werkers dalk betrokke by moord in Potchefstroom
'n Voormalige onderwyser is glo verwurg, sy vrou vasgebind en hulle huishulp gedreig tydens 'n aanval in Noordwes.

Die gemeenskap van Potchefstroom is in skok oor die moord op ‘n geliefde voormalige onderwyser by Laerskool Hendrik Potgieter, Charl Bekker (74).
Bekker is Donderdag op sy plaas naby M.C. Roode-rylaan tydens ‘n plaasaanval vermoedelik verwurg. Sy vrou, Elzabe (70), is vasgebind, maar nie ersting tydens die voorval beseer nie.
Noordwes polisiewoordvoerder Kaptein Sam Tselanyane het in ‘n verklaring bevestig dat vier mans, vermoedelik Bekker se werkers, hom vermoor het.
“Die mans het na hulle die slagoffer buite verwurg het, na die huis gegaan. Hulle het die huishulp gedreig en sy vrou buite die huis vasgebind. Die verdagtes het die huis geplunder en die kluis se sleutels vereis,” noem Tselanyane.
Hy het ook bevestig dat die verdagtes met die egpaar se Mercedes-Benz-sportnutsvoertuig gevlug het. Dit is nog onseker waarmee die verdagtes alles weggekom het.
Tselanyane het bevestig dat die ondersoek voortduur en dat daar nog op die uitkyk is vir die verdagtes en die gesteelde voertuig.
Oud-leerders en personeel het op sosiale media medelye met sy afsterwe gedeel en genoem dat Bekker ‘n groot impak gemaak het.
Read original story on potchefstroomherald.co.za