Plaasmoordprojek in Amerika: Maak kruise eerder simbole van hoop, sê SA-predikante

Twee Johannesburgse predikante is gekant teen die voorspraakgroep Lex Libertas se plan om wit kruise in Washington te plant vir bewusmaking oor plaasmoorde.

Twee predikante van Johannesburg het skerp gereageer op ‘n veldtog wat geld insamel om 3 000 kruise voor die Amerikaanse Capitol-gebou op te rig ter nagedagtenis aan die slagoffers van Suid-Afrikaanse plaasmoorde. Die predikante voer aan dat die fondse eerder vir opbouende projekte gebruik moet word. Hulle glo wit kruise moet ‘n simbool van hoop wees vir Suid-Afrikaners wat ten spyte van verskille wil saamwerk vir ‘n beter toekoms, en nie gebruik moet word om ‘n verdraaide narratief te verkondig nie.

Dit volg nadat Ernst Roets, die uitvoerende direkteur van Lex Libertas, Dinsdag (30 Junie) verneem het dat hulle die nodige toestemming gekry het om in East Seaton Park, direk voor die Capitol-gebou, dié kruise op te rig.

Ds. Schalk van Heerden, ’n leraar van die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Randburg en medestigter van die Betereinders, sê die enigste manier om alle moordslagoffers werklik te eer, is om saam te staan en Suid-Afrika ’n veiliger plek vir almal te maak.

“Wetenskaplik beskou, help die lawaai oor wit kruise en rooi hoedjies niks nie; desperate jongmense het eerder tasbare hoop en beter alternatiewe nodig om ’n nuwe koers te kies.

“Ernst ondersteun steeds die Afrikanervolksmoord-narratief terwyl selfs organisasies soos AfriForum ontken het dat daar ’n volksmoord is. Die geld, wat Ernst wil insamel vir dié projek, kan eerder vir opheffingswerk gebruik word.”

Dié beplande Witkruisprojek sal op 26 September by die National Mall in Washington, DC, plaasvind.

“Die bevestiging van die datum en plek is ’n belangrike mylpaal van die veldtog. Ek steur my nie aan enige kritiek nie en wil nie eers daarop reageer nie. Niemand mag plaasmoorde afmaak as ’n onbenullige misdaadprobleem in die land nie,” sê Roets.

Hy beoog ook om ’n paar slagoffers van plaasaanvalle, asook familielede wie se geliefdes vermoor is, op hulle ‘pelgrimstog’ Amerika toe te neem. “Ons is besig om geld in te samel om die kostes te dra. Die projek kos derduisende rande en ons is afhanklik van skenkings van mede-Afrikaners.”

Internasionale steun

Roets, wat ook nou bande het met die regse Amerikaanse jeugorganisasie The New York Young Republican Club, sê die doel is om internasionale steun te werf vir praktiese oplossings rakende die plaasmoordkrisis, politieke aanhitsing, rasgebaseerde diskriminasie en die bedreiging van minderheidsgroepe in Suid-Afrika.

“Ek wil dit ook duidelik maak dat die Young Republicans ons nie finansieel bystaan nie, maar hulle help ons met internasionale bewusmaking. Die veldtog geniet reeds steun onder verskeie meningsvormers, instellings en gemeenskapsleiers in verskillende lande. Die publiek word ook aangemoedig om ’n wit kruis te borg,” sê Roets.

Betreurenswaardig dat trauma uitgebuit word – predikant

Ds. Rudi Swanepoel, ’n leraar aan die Aan Die Berg-gemeente in North Cliff en lid van die aktivistegroep Afrikaners vir Suid-Afrika, sê geweldsmisdaad is ’n baie werklike probleem in die land. Hy wys egter daarop dat plaasmoorde slegs 0.2% uitmaak van alle moorde wat landwyd aangeteken word.

“Dit is ook betreurenswaardig dat werklike trauma van mense uitgebuit word en na Amerika uitgevoer word. Die oorgrote meerderheid van moordslagoffers in Suid-Afrika is swart en nie wit nie.”

Maak kruise simbole van hoop

Hy wil ’n versoek aan Roets rig om eerder daardie kruise simbole van hoop te maak.

“Dink jy nie die ganse mensdom het nodig om beter stories te glo as die een wat met haat en geweld en onskuldige slagoffers eindig nie?”

Swanepoel beskou die kruis as een van die kragtigste simbole op die planeet. “Dit is ’n simbool van pyn, van onreg, van straf en teregstelling, maar dit is ook ’n simbool van hoop,” sê hy.

Hy sê verder dat Roets eerder vir hulle (die Amerikaners) moet vertel dat ons by ’n keerpunt is en dat daar meer goeie mense as bose mense in ons land is.

Swanepoel sê die meerderheid Suid-Afrikaners is daartoe verbind om oor rasse- en talle ander verskille heen saam te werk om ons vele uitdagings die hoof te bied, insluitend ekonomiese ongelykheid, landelike en stedelike veiligheid, ’n gebrek aan gehalte-onderwys en korrupsie.

“Ek verwerp die idee dat wit Afrikaners uitgesonder word vir onregverdige behandeling.”

Intussen het Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder van gemeenskapsveiligheid, gesê dat hulle alle pogings om bewusmaking rondom plaasaanvalle ondersteun.

Hoewel AfriForum se jongste verslag oor plaasmoorde ’n afname toon, waarsku die burgerregte-organisasie dat die uiterste geweld tydens dié aanvalle kommerwekkend bly. Die studie werp spesifiek lig op die hoë voorkoms van verskerpte geweld, verkragting en marteling wat in 2025 aangemeld is.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button