Polisie ‘trek sluier’ oor moorde in Vanderbijlpark

Die polisie sê hulle gaan nie inligting oor hul misdaadsondersoeke in die area bekendmaak nie.

Die Sedibeng Polisie weier volstrek om insidente te bevestig of inligting met die media en publiek te deel, kompleet asof hulle ‘n sluier van geheimhouding oor die misdaad skrikbewind in die Central West (CW) gebiede in Vanderbjilpark getrek het.

Dit is die beeld wat geskep word nadat kapt. Fikile Funda, Sedibeng polisie se  woordvoerder, verlede week weer genader is oor die ses bevestigde moordie in die gebied die afgelope paar maande.

Die voorvalle en moorde wat tans bekend is:

  • Beula Ellis se liggaam is op 25 Julie in ‘n sloot waarin veselkabels gelê gaan word in Curierylaan gevind.
    Sy was te voet na haar woonstel in NW7 (naby die dorp se swaar nywerheidsgebied) op pad nadat sy karwagdienste by ‘n aandbyeenkoms van die Hoërskool Transvalia gelewer het.
  • Patrick Smit (30), het op 30 Julie na ‘n bloedige aanranding op ‘n sypaadjie in Einsteinstraat, CW2, gesterf.
    Hy het hoofbeserings en opvallende wonde aan sy gesig, oë en mond gehad. Hy is eers onlangs deur sy familie in die plaaslike lykshuis opgespoor en uitgeken.
  • Twee vroue van die area wat as “Little Portugal” bekend staan, is glo in afsonderlike voorvalle op dieselfde manier vermoor. Hul identiteite is nog nie bekend gemaak nie.
  • Nog ’n vrou se erg vernielde lyk is glo ook in die omgewing van ‘n bekende kuierplek in Mumfordstraat gevind en ‘n man is met bloeding op die brein in die hospitaal opgeneem nadat hy in ‘n afsonderlike voorval in die omgewing aangerand is.
  • Twee inwoners het die koerant ingelig dat hulle in afsonderlike voorvalle deur ‘n man met ‘n balaklawa oorval en beroof is terwyl hulle te voet van hul werk af op pad huis toe was.
  • Op 9 Augustus is Skye Fagyas, so erg in die omgewing van die Siësta-versorgingsoord in Pasteur-boulevard aangerand dat sy twee dae later in die Sebokeng-hospitaal beswyk het.
    Volgens inligting het sy die aand vanaf haar huis in Jan Cilliersstraat, CW6, geloop om geld vir kos by ‘n OTM te gaan trek.
    Sy is in Pasteur-boulevard, digby Herfsoord en die Siësta-versorgingsoord, oorval en aangerand. ‘n Inwoner het in die vroeë oggendure Fagyas se kreungeluide gehoor en op haar afgekom waar sy erg beseer op die sypaadjie gelê het.
  • In die mees onlangse geval is ‘n voetganger 25 Augustus naby ‘n winkelsentrum in Stephensonstraat met ‘n swaar voorwerp oor sy kop geslaan en beroof van alles wat hy by hom gehad het. Hy is in die hospitaal opgeneem en ‘n klag is by die polisie gelê.

Die polisie het wel ontken dat dit die werk van ‘n reeksmoordenaar is.

Funda het geweier om te sê of enige verdere moorde bo en behalwe die ses gevalle in CW-gebiede plaasgevind het en of enige arrestasies al gemaak is.

“Ons gaan nie ‘n stap-vir-stap verslag van misdaadsondersoeke in die CW areas gee nie,” het Funda telefonies aan Vaalweekblad gesê. Hy het ook nie gereageer op geskrewe vrae nie.

Die zero-inligting standpunt van die polisie het negatiewe reaksie uitgelok in die sakegemeenskap en politieke kringe.

Dis algemene kennis dat ‘n oningeligde gemeenskap nie misdaad kan voorkom nie.

“Niemand verwag dat die polisie sensitiewe ondersoekinligting moet verklap nie, maar inligtng om die publiek bewus te maak van misdaadtendense is sekerlik toelaatbaar en tot almal se voordeel,” het een inwoner gesê.

Hierdie kortsigtige besluit kan die gemeenskap, wat ekstra oë en ore vir die polisie kan wees, se vertroue in die polisie net tot ‘n nuwe laagtepunt dryf”, het Klippies Kritzinger, CEO van Vaal Business Co-operation (VBC), aan die koerant gesê.

 

Read original story on vaalweekblad.com

Back to top button