Prins Albert man kry 8 jaar tronkstraf nadat hy kind (2) pak gee
Tydens sy vonnisoplegging het die landdros gesê dat sy vorige 13 veroordelings as verswarende omstandighede gesien word.
‘n Man van Prins Albert wat ‘n tweejarige kind twee houe met die plathand gegee het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir agt jaar tronk toe gestuur. Die man het 13 vorige veroordelings teen hom.
Andrew Voetpad (35) het skuldig gepleit op die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Volgens hom was hy saam met sy meisie en haar twee kinders onderweg van haar ouers se huis toe die tweejarige begin huil het. Hy het die kind toe twee houe met sy plathand gegee om stil te bly.
Voetpad het erken dat hy die grense van dissiplinering oorskry het en diepe berou daaroor het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê kinders huil soms omdat dit ‘n manier is om te kommunikeer en dat hulle nie seergemaak moet word nie.
Voetpad se vorige veroordelings was verswarend vir vonnis het die landdros gesê. Hy is ook onbevoeg verklaar om met kinders te werk.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com